’n Uitbreking van dié wurm, Spodoptera exempta, het vanjaar in groot dele van Limpopo en Noordwes voorgekom, asook in die Vrystaat. Sedert einde Maart is dit ook rondom Msinga en Nkandla in KwaZulu-Natal gesien.

Die volwasse motte kom oorspronklik van uitbrekings in Sentraal-Afrika en het na Suid-Afrika versprei saam met die heersende winde.

Dit is ’n ernstige plaag vir weiding en graangewasse. Uitbrekings van dié trekplaag kom nie elke jaar voor nie, maar volg gewoonlik op goeie reënseisoene wat hul aanteel bevoordeel.

Boere sal die wurms raaksien wanneer die ruspes in groot getalle deur die veld begin beweeg.

LEWENSIKLUS

Kommandowurms vreet nét gras. Hulle verkies Cynodon-spesies, tef, wintergras, Eragrostis curvula en kikoejoe. Soos hulle groter word, val hulle byna enige soort gras aan, insluitend suikerriet en mielies. Hulle kan ’n mielieplant só vreet dat slegs die hoofaar en stingels oorbly.

Ouer kommandowurmlarwes groepeer hulself en “marsjeer” grondlangs deur die veld terwyl hulle al die gras vreet wat voorkom. Hul algemeen bekende naam kom van dié gedrag af.

Die motte kan oor lang afstande vlieg, miskien selfs duisende kilometers as hulle saam met die heersende winde beweeg.

kommandowurm vroulike mot
Die vroulike mot. Foto: Margaret Kieser
kommandowurm eiers
Die eiers. Foto: Margaret Kieser

VERGIFTIGING

Die presiese oorsaak van die vergiftiging van kikoejoegras is onbekend, met sommige navorsingsartikels wat na mikotoksiene verwys en ander na sianiedvergiftiging.

Simptome by beeste volg gewoonlik ongeveer tien dae nadat die ruspes verskyn het. Slegs enkele kikoejoeweidings toon hierdie toksisiteit.

Die slukrefleks van aangetaste beeste word verlam, lang stringe waterige speeksel vloei uit die bek en diere is oënskynlik erg dors. Ander geringe simptome soos opgeblasenheid, kners van tande en stuiptrekkings kan ook voorkom. In die gevorderde stadium van die vergiftiging gaan die dier lê en vrek uiteindelik.

Diere kan herstel wanneer simptome vroeg opgemerk word of as klein hoeveelhede van die aangetaste gras gevreet is. Sodra simptome waargeneem word, moet álle diere vir minstens 40 dae uit die aangetaste weivelde verwyder word. ’n Veearts moet geraadpleeg word.

VROEË OPSPORING

Die vroegtydige opsporing van die insekte is noodsaaklik vir doeltreffende optrede.

Insekdoder word nie aanbeveel vir gebruik op ruspes wat reeds volgroeid is nie. Die meeste skade is reeds aangerig en die motte sal waarskynlik verder vlieg. Gewoonlik kom ’n opvolggenerasie nie in dieselfde gebied voor nie. Ruspes wat van een weiveld na ’n ander beweeg, kan gekeer word deur ’n voor te ploeg, met dieper gedeeltes tussenin. Die larwes beweeg met die voor langs en val uiteindelik in die holtes, waar hulle toegegooi of met chemiese middels doodgemaak kan word.

Chemiese bestryding is die doeltreffendste as dit toegedien word sodra die wurms uitbroei (1 mm tot 5 mm lank), aangesien hierdie jong instars vatbaarder is vir gifstowwe.

NAVRAE: Dr. Roger Price is leier van die navorsingspan oor insek-ekologie van die Landbounavorsingsraad se kampus vir plantgesondheid. pricer@arc.agric.za

Waarvoor moet boere op die uitkyk wees?

·        ’n Volgroeide larwe het ’n tipiese omgekeerde Y-merk op die voorkop.

·        Motte is donkerkleurig, met ’n vlerkspan van 40 mm. Voorvlerke is swartbruin, en die agtervlerke wit.