Só het mnr. SK Makinana, nasionale ondervoorsitter van die kommunale wolkwekersvereniging, op die vereniging se jaarkongres in Middledrift in die Oos-Kaap gesê.

“Die wolbedryf is een van die bes georganiseerde bedrywe in die Oos-Kaap, maar die departement bestee miljoene rande aan ander projekte in die provinsie. Dié projekte is van nuuts af begin. Wolboere het reeds die skape, kennis en vaardighede, maar die geld gaan nie na hulle toe nie.”

Mnr. HB van der Walt, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in die Oos-Kaap, het gesê wolskure en infrastruktuur vir sortering is steeds van die grootste behoeftes van kommunale boere. Slegs 20% van die gemeenskappe het toegang tot die regte skeerinfrastruktuur.

Hy sê dis ook kommerwekkend dat skeerskure teen meer as ’n miljoen rand opgerig word en dan nie eens voltooi word nie weens korrupte en onbevoegde kontrakteurs.

Mnr. T. Boko, ’n verteenwoordiger van die departement, sê daar is moontlik in die komende jaar meer finansiering vir die wolboere, aangesien die vorige jaar se begroting op groot projekte bestee is.

Ramprojek

Mnr. Billy van Zyl, ondervoorsitter van die NWKV, het sy misnoë te kenne gegee oor die regering se versuim om vanjaar by te dra tot die vereniging se ramprojek waardeur kommunale kuddes se teelmateriaal reeds die afgelope 22 jaar verbeter word.

“Wat die regering nie verstaan nie, is dat daar ’n groot behoefte aan die ramme onder die boere is en dat dié ramme ’n groot verskil maak,” sê Makinana.

Hy weet byvoorbeeld van ’n vroueboer naby Sterkspruit wat danksy haar wolinkomste vir haar ’n trekker kon koop waarmee sy nou groenvoer vir die wintermaande vir haar skape plant, asook ’n dubbelkajuitbakkie.

Van Zyl sê die NWKV het reeds kommunale boere met potensiaal geïdentifiseer indien die staat grond beskikbaar sou stel.

’n Resolusie is op die kongres geneem dat elke streek ’n plaas van 5 000 ha moet kry. Makinana het egter benadruk dat die NWKV nie grond besit nie en dat grondoordrag in die staat se hande is. Die NWKV kan slegs die nodige ondersteuning bied aan boere wat as begunstigdes van plase aangewys word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.