Die besluit volg op die Covid-19-pandemie wat vermoedelik sy oorsprong op ’n mark vir lewende, wilde diere in Wuhan gehad het.

CNN berig dat die Chinese departement van landbou se lys varke, beeste, hoenders en skape insluit, asook sogenoemde spesiale vee soos verskillende hert-spesies, alpakkas en volstruise. Twee vos-spesies, wasbere en nerts word ook as vee geklassifiseer, maar hulle mag nie vir vleis aangehou word nie.

Die spesies waaruit wetenskaplikes vermoed die virus na mense oorgedra is, soos ietermagôs, vlermuise en sivetkatte, is nié op die lys nie. Honde is ook nie op die lys nie.

“Met die vooruitgang van die menslike beskawing en die publiek se besorgdheid oor- en voorkeur vir dierebeskerming het honde van tradisionele vee na troeteldiere verskuif,” lui ’n verduideliking wat tot die konseplys aangeheg is. “Die res van die wêreld sien hulle nie meer as vee nie. Dit sal daarom nie raadsaam wees om hulle as vee te klassifiseer nie.”