In die eerste verslag oor die bokhaarseisoen 2019 skryf mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder van bokhaar by OVK/CMW, dat die vraag na skeersel wat as nie-volhoubaar getoets is, merkbaar laer is en gemiddeld 20% minder verdien.

Volgens hom het die somerseisoen goed begin met goeie mededinging tussen kopershuise.

Vergelyking met die ooreenstemmende veiling ’n jaar gelede was die prys van kleinbokkiehaar 36% beter, dié van jongbokhaar 16% beter en dié van grootbokhaar 8% beter, terwyl die wisselkoers dieselfde was.

Sedert die laaste veiling, wat in Desember 2018 plaasgevind het, bly die veilingpryse egter onveranderd, met kleinbokkie- en jongbokhaar wat 1% meer vedien beter, en grootbokhaar wat 2% goedkoper is.

Van der Vyver skryf ook dat daar ’n duidelike verskuiwing in die vraag is van grootbokhaar af na fyner tipes onder 31 mikron.

“Spesiale aandag moet in die klasseringsproses van die skeersel geskenk word aan die verdeling van die grade van fynheid. Die gemiddelde verskil per mikron het tot sowat R20/kg gestyg.”

Onveranderd

Van der Vyver het aan Landbouweekblad verduidelik dat die gehalte van die eerste veiling verbasend goed was. Hy sê egter dis moeilik om nou al ’n neiging te bepaal aangesien skeerspanne laat begin skeer het.

“Die goeie reën van die afgelope week help gelukkig om die stof van die droogte te help uitwas wat van ons grootste probleme was verlede jaar. Die droogte veroorsaak ook dat die skeersel fyner is as gewoonlik, wat beteken die huidige rigting wat bokhaar inslaan pas eintlik die boere.”

Aanbod

Die volle aanbod is op die veiling verkoop, met die markaanwyser wat op R279,92/kg gesluit het. Die beste prys van die dag – R509,10/kg – is betaal vir ’n baal somerkleinbokkiehaar van mnr. Arno de Jager van die plaas Concordia naby Aberdeen. Dit het ’n veseldikte van 23,9 mikron gehad en ’n skoonoprbengs van 84,4% behaal. Die beste gemiddelde prys vir die dag is ook vir sy skeersel betaal.

Volgens Van der Vyver word soortgelyke pryse op die volgende veiling op 5 Maart verwag. Die aanbod op die volgende twee veilings sal kleiner wees weens die vertraging van skeerspanne uit Lesotho en die droogte.

Hy sê die bedryf se grootste uitdaging tans is die konstante druk wat die aktivistegroep PETA op verwerkers en eindverbruikers van wol en bokhaar sit om die gebruik daarvan stop te sit. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.