“Sawamba het ná noukeurige oorweging besluit om nie die veiling by te woon nie,” sê mnr. Paul Lynch, voorsitter van Sawamba.

Dit is omdat die wolkopers nog nie duidelikheid van die departement van landbou ontvang het oor die verklaring rakende die opheffing van die verbod op die uitvoer van diere met gesplete hoewe en hul produkte na China nie.

Lynch sê die bedryf verstaan dat volgens die verklaring wat van die Chinese owerheid ontvang is, is die verbod opgehef vir alle gebiede in Suid-Afrika buiten Limpopo, Ehlanzeni in Mpumalanga en Umkhanyakude in KwaZulu-Natal.

“Soos ons die verklaring verstaan, kan alle wol van buite dié gebiede soos normaal verskeep word. Wol van buite dié gebiede word wel geraak deur tyd- en temperatuurbeperkings. Dit is hoe ons Chinese kliënte dit ook sien.”

China, wat as Suid-Afrika se grootste wolkoper 70% van die plaaslike skeersel koop, het in Julie die verbod op produkte van diere met gesplete hoewe opgehef. Die verbod is in Februarie ingestel ná die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo. Vetwol kan nou na China uitgevoer word ingevolge ’n nuwe gesondheidsertifikaat, wat onderhewig is aan die temperatuur- en tydsvereistes van die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE). Dit vereis dat wol ná ontvangs vir vier maande teen 4 °C, of vir vier weke teen 18 °C, of vir agt dae teen 37 °C opgeberg word.

Volgens Lynch beteken die huidige lae temperature wat gemeet word, dat die wolkopers hul betalings eers drie tot vier maande ná verkope kan ontvang.

Hy sê die oorblywende markte wat vir normale woluitvoer oop is, sal nie die wol wat vir China bestem is, kan opneem nie.

Moeilike besluit

Volgens Lynch het die bedryf die besluit om verskeie redes geneem. Sawamba se lede finansier tans die hele wolbedryf aangesien kopers vyf dae ná ‘n veiling vir die wol moet betaal. In normale omstandighede betaal hul kliënte hulle ná vier tot sewe weke.

Hy verduidelik dat kopers tans egter eers vier maande later betaal sal word. Gevolglik is dit baie duur om wol wat teen rekordpryse verkoop word, teen Suid-Afrika se hoë rentekoerse te finansier.

“Daar is eenvoudig nie genoeg geld binne die wolbedryf om dit week ná week te doen nie. Daar word weekliks gemiddeld R150 miljoen se wol verkoop.”

Hy sê Chinese kopers is nie bereid om die risiko te loop om wol nou te koop, maar dit eers vyf maande later te ontvang wanneer die mark moontlik met 10% afgeneem nie.

Afwaartse neiging

Volgens Cape Wools het die Australiese wolmark vandeesweek die nuwe seisoen op ’n negatiewe noot begin, met die meeste sektore wat ’n daling aangeteken het.

Die Australiese EMI het met 4,5% gedaal. Dié daling is hoofsaaklik weens die handelsdispuut tussen China en Amerika.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.