Dít was die ontnugterende boodskap van dr. Ariena Shepherd, ’n veearts van Bergville in KwaZulu-Natal, op die Herkouerveterinêre Vereniging (RuVASA) se kongres in Johannesburg. Sy sê kriptosporidiose het veral groot skade aan boerderye in KwaZulu-Natal en die Vrystaat aangerig.

“Die kriptosporidium-protosoa is uiters gehard en kan in die moeilikste toestande oorleef. Die protosoa vermeerder teen ’n vinnige tempo en kan binne ’n paar dae vrektes by jong diere veroorsaak.” Kriptosporidiose het boonop die geneigdheid om ’n dier se gesondheid te laat agteruitgaan, selfs nadat die dier behandel is.

“In die verlede is daar verskeie behandelings voorgestel, waaronder om elektroliete, multi- vitamiene en probiotika aan die diere toe te dien, maar dit is nie altyd geslaag nie. Verskillende middels is ook voorgeskryf, maar ook met gemengde sukses.”

VOORKOMING IS BETER AS GENESING

Die beste verweer teen die siekte is in strategiese voorkomingsaksies, soos om lamhokke en stalle met chloordioksied of formalien en ’n skropborsel skoon te maak. Biosekerheidsmaatreëls moet toegepas word en diere moet die regte inentings op die regte tye kry.

“Hoewel daar nie ’n entstof teen kriptosporidium bestaan nie, lê die geheim daarin om diere se gesondheid en hul immuniteit so sterk as moontlik te hou. Dit beteken ook dragtige diere mag geen mineraaltekorte hê nie, wat beteken dat rantsoene ook ’n belangrike rol speel.” Shepherd waarsku ook teen die wangebruik van antibiotika.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.