Dit gaan ál meer sy tol eis namate die gevolge van aardverwarming sy merk op die beesbedryf laat. Kruisteling met aangepaste rasse kan egter koeidoeltreffendheid met byna 50% verhoog. 

Pak kruisteling reg aan – dit oorkom nie net die gevolge van aardverhitting nie, maar bied ook ’n oplossing vir boere wat onder toenemende druk is om meer met minder te produseer. Só sê me. Anette Theunissen, ’n veekundige en een van die dryfvere vir omvattende kruisteeltnavorsing in die Noord-Kaap.

Sy het op die jaarlikse boeredag van die Winton-boerevereniging op Kathu gepraat oor die rol wat basterkrag speel ten opsigte van ’n kleiner koolstofspoor en groter produktiwiteit.

By ’n gebrek aan termiese gemak soek diere na maniere om van hitte ontslae te raak. Dit behels ’n reeks aanpassings in hul respiratoriese, sirkulatoriese, ekskretoriese, endokriene en senustelsels. Die gemiddelde temperatuur in die Noord-Kaap kan in die nabye toekoms met 2,3 °C tot 4 °C opskiet van die huidige gemiddelde, wat 29,6 °C beloop.

Die aantal warm dae in dié provinsie kan terselfdertyd van 65 dae tot 205 dae toeneem en die voorkoms van hittegolwe kan van 16 keer tot 26 keer per jaar styg.

Theunissen, ’n navorser en diereteler by die Noord-Kaapse departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gesê vleisproduksie het ’n groot koolstofspoor wat tot aardverwarming aanleiding gee.

Om dié spoor kleiner te maak, moet beesgetalle verminder word, maar produksie per dier moet terselfdertyd styg om tred te hou met die vraag na vleis. Hierdie verhoogde doeltreffendheid sal help om die hoeveelheid kweekhuisgasse per eenheid produk wat gelewer word, te verminder.

Om die vrylating van kweekhuisgasse in die diereryk in perspektief te stel: Twee vrylopende koeie produseer jaarliks net soveel kweekhuisgas (229 kg metaangas) as ’n motor wat 16 000 km per jaar aflê (en 5 258 kg koolstofdioksied – oftewel CO² – vrystel).

Kyk ook na die volgende Amerikaanse vergelykings wat toon hoeveel kilogram CO²-ekwivalente kweekhuisgas vrygestel word om 1 kg van ’n bepaalde landbouproduk te produseer.

Dit word ook vergelyk met die afstand wat ’n motor moet aflê om dieselfde hoeveelheid kweekhuisgas vry te stel: 1 kg aartappels: 0,29 kg CO² en 0,59 km. 1 kg appels: 0,34 kg CO² en 0,70 km. 1 kg aspersies: 0,46 kg CO² en 0,95 km. 1 kg hoendervleis: 1,25 kg CO² en 2,57 km. 1 kg varkvleis: 4,38 kg CO² en 8,93 km. 1 kg beesvleis: 17,02 kg CO² en 34,74 km.

Verhoog produktiwiteit

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) voorspel boonop dat beesvleispryse oor die volgende tien jaar in reële terme gaan daal.

“Produktiwiteit op grondvlak moet dus verhoog om mededingend te bly op die vleismark. Graanpryse gaan ook daal en produsente sal tegnologie moet gebruik om méér met minder produksiemiddele te produseer,” het Theunissen gesê.

Die doel van enige teeldoelwit moet wees om nie slegs genetiese veranderings te verkry nie, maar ook om produksiedoeltreffendheid en opbrengs uit verkope te verhoog. Seleksie vir ’n aantal tradisionele eienskappe, soos speengewig, sal produksie laat styg, maar dit sal nie noodwendig die produktiwiteit of doeltreffendheid verbeter nie.

Die onderskeie produksiestelsels in beesboerdery verg aanpassings, asook die diere se verdraagsaamheid ten opsigte van die omgewing.

Dit kan selfs vir sommige produsente nodig word om in die volgende 25-30 jaar na ’n ander beesras oor te slaan. Die soort produksiestrategie wat die beesboer volg, sal primêr van die omgewing, mark en bestuursvlak afhang.

In taai, onderontwikkelde gebiede sal rasegte teling met inheemse rasse waarskynlik die enigste produksiestelsel wees om te volg. Daar kan egter ook gevalle wees waar uitheemse rasse en hul kruisings aan die vereistes sal voldoen.

‘Graanpryse gaan ook daal en produsente sal tegnologie moet gebruik om méér met mínder produksiemiddele te lewer.’

Goed ontwerpte kruisteling

Theunissen het gesê ’n goed ontwerpte kruisteelstelsel benut die voordele van ’n kombinasie van uitstekende eienskappe van die onderskeie rasse om die diere se doeltreffendheid te verbeter.

Gewoonlik kan maternale rasse (wat presteer ten opsigte van eienskappe, soos vrugbaarheid, min distokia (koeie wat nie sukkel om te kalf nie), hoë melkproduksie, lae onderhoudsbehoefte en goeie moeder- eienskappe) met paternale rasse (wat goed vaar met eienskappe, soos groeitempo en voerdoeltreffendheid, vleisgehalte en karkasopbrengs) gekruis word.

Kruisteling moet produksie verhoog sonder om méér produksiemiddele uit die omgewing te verg. In hierdie verband is proewe met verskillende rasegte en kruisrasse op die Vaalharts-proefplaas by Jan Kemp- dorp gedoen. Een van die proefnemings was met die Nguni in ’n terminale kruising met Angusbulle. Hierdie kruiskalwers is op 177 kg gespeen.

Die moeders het gemiddeld 355 kg geweeg. Dit beteken ’n produksie van 142 kg speenkalf per grootvee-eenheid (GVE). Daarenteen het rasegte Ngunikalwers op 145 kg gespeen by moeders van gemiddeld 365 kg, vir ’n produksie wat 116 kg kalf/GVE.

Die kruising het die koeidoeltreffendheid dus met 22,4% verhoog. Die onlangse, verfynde omskakeling van koeigewig van verskillende raamgrootes (in hierdie geval kleinraamgrootte) na GVE is hier gebruik.

Die vergelykings lyk tans só: *Kleinraamkoeie: Y = 0,2871428571 + 0,0025542857x – 0,0000005714x2 *Mediumraamkoeie: Y = 0,220714286 + 0,0030978571x – 0,0000010714x2 *Grootraamkoeie: Y = 0,3239285714 + 0,0036535717x – 0,0000015x2 (Y = GVE en x = koeigewig by partus oftewel speen).

Voorbeelde van kleinraamrasse is Angus, Afrikaner, Nguni, Galloway, Hereford, North Devon en Vleiskorthoring. Voorbeelde van mediumraamrasse is Bonsmara, Brahman, SA Suiwel-Switser, Drakensberger, Pinzgauer en Sussex. Voorbeelde van grootraamrasse is Charolais, Simmentaler en South Devon.

Vergelyk koeidoeltreffendheid

Theunissen het ook ’n vergelyking in die koeidoeltreffendheid gedoen tussen koeie met verskillende raamgroottes sover dit koeigrootte, speengewig en tussenkalf- periode (TKP) betref (tabel 1).

Verklaring: A = Afrikaner; B = Brahman; C = Charolais; H = Hereford; S = Simmentaler; BA = Brahman x Afrikaner; CA = Charolais x Afrikaner; HA = Hereford x Afrikaner; SA = Simmentaler x Afrikaner.

Die resultate toon dat TKP die grootste uitwerking op koeidoeltreffendheid het. Dit wissel van 44% tot 51%. Kalfgewig is stabiel tussen 32% en 33%. Koeigewig lewer die kleinste bydrae tot koeldoeltreffendheid, naamlik 17%-24%.

Tabel 2 toon die resultate van 29 beestipes wat betref kilogram kalf gespeen per GVE sonder die inagneming van verskille in die rasse se reproduksietempo.

Die persentasie tussen hakies is die produksie-afwyking van die Afrikaner, wat as maatstaf gebruik is.

’n Kruisteelstelsel met rasegte Afrikanerkoeie was gemiddeld 2,5% doeltreffender as rasegte Afrikanerkalwers, terwyl kruiskoeie met 50% Afrikanerbloed tot 21,1% doeltreffender was. Hierdie berekenings het egter nie die verskil in die speenpersentasie van die onderskeie kruiskoeie in berekening gebring nie.

Tabel 3 toon die gemiddelde speenpersentasie van die 29 beestipes wat op die Vaalharts-proefplaas verkry is. Dit wissel van 77% by rasegte Afrikanerkoeie tot 89% met 50%-Hereford x 50%-Afrikanerkruiskoeie.

Tabel 4 toon die speenpersentasie x kg kalf gespeen/GVE. Die eerste kruise van rasegte Afrikaners toon die laagste syfer van 16,5%-verbetering in doeltreffend- heid. ’n Merkwaardige 49,7%-verbetering in koeidoeltreffendheid is met kruisings van Simmentalerbulle met 50%-Hereford x 50%-Afrikanerkoeie verkry.

Bereken doeltreffendheid só

Theunissen het verduidelik hoe ’n beesboer sélf sy kudde se koeidoeltreffendheid kan bereken. Om die gekorrigeerde 205 dae-speengewig te bereken, word die geboortegewig van die speengewig afgetrek en deur die dagouderdom gedeel.

Vermenigvuldig die resultaat met 205 dae en tel die geboortegewig by: (speengewig - geboortegewig ÷ dag-ouderdom) x 205 + geboortegewig Die grootste verhoudings van gekorrigeerde speengewig ÷ koeigewig (by partus oftewel speen) is die doeltreffendste koeie.

Die boer behoort die swakste 20% koeie elke jaar uit te skot en met die beste versies te vervang om die seleksiedruk te verhoog.

“Die volwasse koeigewig moet so laag moontlik bly en die speengewig moet toeneem,” het Theunissen beklemtoon. Dit is ook noodsaaklik om kalftye te hê. Koeigroepe moes dieselfde weiding gehad het of as afsonderlike groepe geëvalueer word. Goeie toesig is nodig tydens die kalftyd om geboortedatums en geslag te kan aanteken.

Die kalwers en koeie moet met speentyd geweeg word. Teken die koei én die kalf se gewig aan. Theunissen het gesê verhoogde koeidoeltreffendheid moet die minimale impak op die omgewing hê. Met kruisteling kan die boer sy koeidoeltreffendheid met tot 49,7% verhoog sonder om bykomende uitgawes aan te gaan mits hy dit deeglik beplan.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.