Daar is vanjaar dus ook die kans om na insette van mnre. Roelf Meyer, politikus, Ryno van der Merwe, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie, Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, en dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, te luister oor die polities-ekonomiese kruispad waarvoor die landbou tans staan.

Dr. Michael Bradfield, direkteur van Breedplan Suider-Afrika, sê Zimbabwe is duidelik nie ’n voorbeeld van hoe om grondhervorming suksesvol te laat gebeur nie. Suid-Afrika kan ook nie Botswana se voorbeeld volg nie omdat daar nooit apartheidswetgewing was wat grondbesitpatrone beïnvloed het nie.

Hy meen Namibië bied dalk die beste voorbeeld waar landbouleiers met die staat saamwerk aan ’n werkbare oplossing. Die boereleiers wys hulle wil saamwerk, terwyl die staat vertroue het dat wit boere opkomende boere wil help om volwaardig kommersieel te boer.

REPRODUKSIE

Produksiegewys val die klem vanjaar op reproduksie met sy twee komponente, naamlik nuwe reproduksietegnologie (onder meer embrio’s, selverdeling en die geslagsbepaling van semen) en die produksiefasette wat met reproduksie gepaardgaan. Een van die internasionale kenners is dr. Brad Crook, hoofgenetikus van Breedplan in Australië.

Hy besoek Suid-Afrika gereeld en sal boere inlig oor Breedplan se bydrae tot internasionale evaluasies. Hy gaan ook ’n werksessie oor genomika en internasionale evaluasies aanbied. Bradfield sê Breedplan is sekerlik die grootste diensverskaffer van genetiese evaluasies ter wêreld en behartig bykans 60% van alle vleisbeesregistrasies in Brittanje en Kanada, 30% in Amerika, 100% in Australië en Nieu-Seeland, 80% in Namibië en bykans 40% in Suid-Afrika.

“Internasionale evaluasies laat toe dat die heel beste teelmateriaal op ’n soortgelyke basis internasionaal regstreeks met mekaar vergelyk kan word.

"Die Limousin-telersgenootskap, byvoorbeeld, behartig een gesamentlike genetiese evaluasie met Namibië, Australië en Nieu-See- land. Die Namibiese Hereford word weer saam met dié van Australië en Nieu-See- land by die nuwe enkelstap- genomiese evaluasie ingeskakel. Crook sal die nuutste ontwikkelings verduidelik,” sê Bradfield.

OPSKUD

Die Veeskool, vanjaar in sy tiende jaar, vind van 17 tot 19 Oktober by die Allemanskraaldam naby Ventersburg plaas. Belangstellendes moet opskud as hulle nog plek wil bespreek, want daar is net vir 200 mense plek.

Die koste is R8 632 (BTW ingesluit) om ál drie dae by te woon. Dit sluit drie nagte verblyf, drie etes per dag en die kursusmateriaal in. Die prys vir ’n enkele dag is R3 664, wat een aand se huisvesting en alle ander koste insluit. Diegene wat net die Vee- skool wil bywoon en nie wil oorslaap nie, betaal R2 422 per dag.

Dit sluit twee etes en die kursusmateriaal in. Mense wat wil kampeer, betaal R5 589, wat alle etes en die kursusmateriaal insluit. Registreer aanlyn by bit.ly/2oZfqaM of kontak me. Charmaine Alberts by e-pos: palberts@telkomsa.net; tel. 051 821 1783.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.