Vosmaer was 250 jaar gelede, in 1769, die eerste Europeër wat die sekretarisvoël beskryf het. Dié herdenking bied die ideale geleentheid om die spesie wyer blootstelling te gee.

Hierdie ikoniese en onmiskenbare voël is onlangs as kwesbaar beskryf, want studies toon die sekretarisvoël se getalle het die afgelope 20 jaar met 78% afgeneem in Botswana. In Suid-Afrika het aangetekende getalle in dieselfde tydperk met 70% gedaal. Die sekretarisvoël kom in al nege provinsies van Suid-Afrika voor en is endemies tot Afrika suid van die Sahara. Hulle verkies oop, kort grasveld en bosveld en vermy landskappe wat ruig bebos is.

Sekretarisvoëls slaap en broei gewoonlik op bome met plat krone en bring die grootste deel van die dag op die grond deur terwyl hulle jag.

UNIEKE MANIER VAN JAG

Die voëls kan tot 30 km op ’n dag beweeg op soek na prooi. Danksy hul buitengewoon lang bene jag hulle op ’n unieke manier. Hulle gebruik hul pote om prooi dood te maak en stamp met hul pote op die grond om moontlike prooi uit hul skuilplek te verwilder.

Sekretarisvoëls jag ’n verskeidenheid prooi. Kleiner prooi word met die bek gegryp en ingesluk, en groteres word vinnig verskeur. Anders as wat algemeen aanvaar word, maak slange minder as 1% van hul prooi uit. Studies toon dat 87% van hul prooi uit ongewerweldes, veral vlieënde insekte, bestaan. Verder benut hulle reptiele, paddas, skilpaaie, rotte, klein soogdiere en jong voëls en eiers. Hulle het ’n voorliefde om in uitgebrande veld na prooi te soek, maar benut nie aas nie.

Sekretarisvoëls is gebiedsgebonde en ’n paar benut ’n gebied van ongeveer 40 vierkantekilometer tot 50 vierkantekilometer. Hulle bring dalk baie tyd op die grond deur, maar hulle vlieg uitstekend – ’n vlieënier het al ’n voël op ’n hoogte van 3 800 m gesien en daar is ’n geval aangeteken van ’n vlieënier wat gesterf het nadat sy ligte vliegtuig met ’n sekretarisvoël gebots het.

Die voëls bou hul nes op ’n boom met ’n plat kroon, en hulle is geneig om dieselfde nes jaar ná jaar te gebruik. Die nes se groot bondel stokke kan aansienlik groei met verloop van jare, byna soos die neste van groot arende. Jong sekretarisvoëls op die oop neste is soms prooi vir kraaie, neushoringvoëls, groot uile en ander roofvoëls.

GETALLE DAAL

Die drastiese afname in die verspreiding en getalle van die sekretarisvoël word meestal deur habitatverlies en -fragmentasie veroorsaak. Hierin speel die toename in die verbouing van landbougewasse en bosindringing ’n belangrike rol. Oorbeweiding en té gereelde veldbrande vererger dit. Bevolkingsgroei en verstedeliking help ook nie veel nie. Dink net aan die benutbare grasvelde tussen Pretoria en Johannesburg wat binne ’n kwessie van 50 jaar Sandton, Midrand en Centurion geword het.

Dié faktore bring mee dat sekretarisvoëls ál minder natuurlike habitat het om hulself en hul kuikens te onderhou. Dit is dus geen wonder nie dat die sekretarisvoël in ernstige moeilikheid is. Soos baie ander groot voëls (kraanvoëls, korhane, roofvoëls, uile en ooievaars) is sekretarisvoëls ook kwesbaar vir botsings met kragdrade en windenergie-turbines en verstrengeling met plaasdrade. Boere behoort ag te slaan op aanbevelings hieroor.

BirdLife Suid-Afrika het die afgelope paar jaar navorsing gedoen oor onder meer die getalle en bevolkingsneigings van die sekretarisvoël. Met behulp van klein satelliet-opsporingstoestelle en borgskappe deur die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika en Petra Diamante kon die organisasie elf kuikens se bewegings vir tot drie jaar monitor. Só is waardevolle inligting bekom oor die afstande wat die voëls daagliks aflê, die habitat wat hulle benut en die grootte van die terrein wat hulle gebruik. Die resultate sal binnekort gepubliseer word. Die sekretarisvoël verdien ons almal se beskerming.

Waarnemings van die voëls, en veral waar hulle neste het, kan met ruitverwysings, weerstoestande en die datum en tyd aan Melissa Whitecross by melissa.whitecross@ birdlife.org.za gestuur word. Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg. Hy woon op Hermanus.

’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste. Vir gratis opvoedkundige plakkate en hulpmiddels oor sekretarisvoëls, kontak Chrissie Cloete by chrissiecandraw@gmail.com


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.