Laat reënval in die somergewasproduksiestreke kan die grootste enkele faktor wees wat tot die onlangse prysdalings vir beesvleiskarkasse en speenkalwers bygedra het.

Die prys vir beesvleiskarkasse (A-graad) het sedert 28 Desember verlede jaar met 9% skerp gedaal vanaf R45,20/kg tot R41,00/kg. Speenkalfpryse het in die ooreenstemmende tyd met 21% gedaal vanaf R33,30/kg tot R26,34/kg. Die prys van geel mielies het sedert einde November met 20% toegeneem.

Ander faktore sluit in die invoer van braaihoendervleis voor Kersfees, die opheffing van Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status, ’n skerp toename in die aanbod van varkvleis en verbruikers wat onder druk is. Die opheffing van Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye status het daartoe gelei dat die bestemde beesvleisuitvoer onmiddellik teen goedkoper pryse op die plaaslike mark aan die kleinhandel gebied is.

Volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het die uitvoervolumes vir bevrore en vars beesvleis 939 679 kg vir die kalenderjaar tot einde November verlede jaar beloop. In 2017 het Suid-Afrika altesame 1 367 829 kg beesvleis uitgevoer. Die betrokke voerkrale het dadelik produksie-aanpassings gemaak, en gevolglik het die vraag na speenkalwers skerp begin daal.

REËNVAL

Die maandelikse reënvalverspreiding het tot sowat middel Desember ’n soortgelyke patroon gevolg as wat in die 2015-’16-produksietyd waargeneem is. Die reënval het egter in Desember begin toeneem (sien grafiek) in so ’n mate dat die gemiddelde reënval vir Desember ooreenstem met die langtermyngemiddelde reënval vir die grootste deel van die mielieproduksiestreek (sien tabel 1).

Die reënval het egter begin toeneem nadat die intensiteit van die El Niño-verskynsel in die Atlantiese Oseaan begin afneem het. Indien die reënvalpatroon die gemiddelde langtermyn-neiging soos tans sou volg, is ’n gemiddelde opbrengs van 4,7 t/ha moontlik. Daarvolgens kan ’n produksie van 9,27 miljoen ton nie uitgesluit word nie (sien tabel 2).

MEER HEKTARE?

Gemeet aan die historiese, maandelikse reënvalverspreiding en plant- en produksieneigings, sal boere dalk in ’n laat stadium vinnig ’n groter hoeveelheid hektaar kon beplant as wat voorheen verwag is. Die moontlikheid is dus nie uitgesluit nie dat die verwagte mielieproduksie vanaf 9,27 miljoen ton tot soveel as 10,6 ton miljoen kan verhoog.

In dié omstandighede sal die mielieproduksie voldoende wees om die behoefte na die invoer van 1,1 miljoen ton geel mielies met plaaslike produksie te vervang. Mieliepryse behoort dan te herstel en gevolglik die winsgewendheid van beesvleis- en speenkalfproduksie te ondersteun.

* Bronne: Absa-Agribesigheid; Nasionale Landboubemarkingsraad; Graan SA; SA Graaninligtingsdiens.

Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigheid in Johannesburg.