Dié grasietydperk is in die laaste week van Junie aangekondig, en loop tot ’n einde September. Nagenoeg 12 000 boere het op 28 Junie deelgeneem aan ’n optog na die land se parlement en ’n petisie aan die regering oorhandig waarin hulle sê die drie maande grasie help hulle niks nie, omdat die 2019-wolskeersel eers gereed sal wees nadat dié grasietydperk verstryk het.

“Dit is dus duidelik dat die doel [van die grasietydperk] is om die bokhaar uit die wolskuur weg te kry, omdat die Chinese nie in bokhaar belang stel nie, maar in wol,” lui die petisie.

Die nuutgestigte Lesotho-wolsentrum – die enigste plek waar die land se boere nou hul skeersel wettig kan verkoop – word deur ’n omstrede Chinese sakeman, mnr. Stone Shi, bedryf. 

Protes

Die land se wol- en bokhaarboere maak reeds maande lank kapsie teen die kaping van hul bedryf deur wetgewing wat verlede jaar ingestel is. Die wetgewing dwing boere om al hul wol en bokhaar aan die Lesotho-wolsentrum te verkoop.

Die regering volhard met dié nuwe beleid in weerwil van ’n uitspraak in Lesotho se hooggeregshof wat ten gunste van die boere bevind het.

Daar is vroeër berig dat sommige boere net gedeeltelik, of glad nie, betaal is vir die skeersel wat hulle aan die Lesotho-wolsentrum gelewer het nie. Boere het selfs die makelaar se bank, Standard Bank, beskuldig daarvan dat hy aandadig is in die weerhouding van boere se geld, omdat dié bank die sentrum se geldsake behartig.

Prins Seeiso Bereng Seeiso, wat reeds sedert verlede jaar ’n ope veldtog teen die handelsverbod maak, sê talle boere in Lesotho het reeds hul  eie lewe geneem omdat hulle oornag in armoede gedompel is deur die verbod. Boere wat voorheen danksy hul skeersel selfonderhoudend was, is nou op maatskaplike toelaes aangewese. Talle boere kan nie meer bekostig om hul kinders skool toe te stuur nie.

Markaandeel

Seeiso vrees ook dat die land se wol- en bokhaarboere permanente markaandeel kan verloor.

“Moet asseblief nie van ons vergeet nie,” was sy pleidooi aan die Suid-Afrikaanse wolbedryf.

Hy hoop dat die Basotho binnekort met vertroue hul wol en bokhaar aan die internasionale mark kan verkoop, maar hy weet hoe gevoelig die mark is en hoe vinnig voorkeure kan verander.

Die land se boere verkoop reeds die afgelope 44 jaar hul skeersel deur BKB in Port Elizabeth.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.