’n Limousin-koei en ’n wit Brahman-bul het met die louere as die opperste kampioene op die jaarlikse BKB-Afrika-Lewendehawe-Ekspo op Parys weggestap. Nog ’n wit Brahman en ’n Simbra was die naaswenners.

Mnr. John en mev. Tracey Devonport van die Devlan Limousin-stoetery, Vaaldam, het die Landbouweekblad-gouebekertoekenning vir die beste vroulike dier op die BKB-ALE-skou die tweede agtereenvolgende keer gewen nadat hulle verlede jaar ook geseëvier het. Hierdie keer is hul koei Devlan Darling DL16-63 as die wenner aangewys. Sy was ook die senior en grootkampioen Limousin-koei.

Die naaswenner was die wit Brahman SER 19-32 van die Serfbred Brahman-stoetery, Serfontein-boerdery, Potchefstroom. Sy was die junior en grootkampioen wit Brahman- vroulike dier.

Die wit Brahman-bul ARC 17-122 van die Arc-en-Ciel Brahman-stoetery van mnr. José Maciel het die Landbouweekblad-gouebekertoekenning vir die beste bul gewen. By hom is mnre. Martin Seyfferdt (senior interrasbeoordelaar), Cor Loggenberg (kuddebestuurder) en Carlos Cilo (hanteerder). Foto: Charl van Rooyen
goudale
Die naasbeste vroulike dier is ’n wit Brahman, SER 19-32. Van links is mnre. Shimi Mninizo (hanteerder), Jan Serfontein en sy dogter, me. Carla de Kock (eienaars). Foto: Charl van Rooyen
goudale
Die naaswenner van die interraskompetisie vir bulle was die Simbra-bul JacMar Buffel JM 8-22 van mnr. Jaco en me. Henriëtte Maré. Regs is hul seun, Fanie. Foto: Charl van Rooyen

Die wit Brahman-bul ARC 17-122 van die Arc-en-Ciel Brahman-stoetery van mnr. José Maciel van Secunda het die Landbouweekblad-gouebekertoekenning vir die beste bul ingepalm. Die bul was die senior en grootkampioen wit Brahman-bul.

Die Simbra-bul JacMar Buffel JM 8-22 van mnr. Jaco Maré, JacMar Simbra-stoetery, Hartbeesfontein, was die naaswenner. Hy was ook die senior en grootkampioen Simbra-bul.

Altesaam 618 beeste is vir die skou ingeskryf: 422 Brahmane, 170 Simbras, 14 Santa Gertrudis en 12 Limousines.

Die Brahman-genootskap het sy nasionale veiling gehou, terwyl die SA Vleismerino-genootskap ’n jongramveiling aangebied het. Daar was ook uitstallings van kleinvee en pluimvee.