Na raming vrek meer as 10% van die Ludwig-poubevolking, ’n bedreigde spesie, jaarliks weens botsings met krag- en telefoondrade. Dié neiging sal waarskynlik voortduur namate die behoefte aan elektrisiteitsopwekking groei en die netwerk kragdrade en windturbines uitbrei.

Die Ludwig-pou (Neotis ludwigii) is ’n groot, statige voël wat in die droë, westelike dele van Suider-Afrika, soos die Karoo en Namibië, voorkom. Hulle is geneig om seisoenaal na die winterreënstreek te beweeg en sal in droë landskappe ook reënbuie volg. Swerms van tot 70 Ludwig-poue is al tydens baie nat toestande getel. Hulle vreet hoofsaaklik groot insekte, veral sprinkane, en klein gewerweldes, maar benut ook plantmateriaal soos blare en bessies.

SPOGGERIGE MANNETJIES

Die gompou verkies droë savanne, die Ludwig-pou hoofsaaklik Karooveld en die veldpou grasveld- en fynboslandskappe. Die gompou se Afrikaanse naam verwys na sy voorliefde vir doringbome se gom. Al drie dié spesies se mannetjies toon skouspelagtige paringsgedrag in die lente, wanneer hulle met bors- en nekvere orent vir die wyfies paradeer.

Ludwig-poue se plooikrae is wit, met swart diamantvormige merke in die middel. Die ander twee spesies se plooikrae is hoofsaaklik wit. Die Ludwig- en veldpou kan in die veld verwar word, hoewel hulle gewoonlik nie in dieselfde habitat aangetref word nie. Let egter op die kleurpatrone op die gesig, keel en vlerkpanele.

Die Ludwig-pou se gesig en voorste gedeelte van die nek is donkerbruin, nie grys nie. Die agterste gedeelte van die nek is oranje, nie rooibruin nie. Die bruin rug en vlerke is liggies gevlek en nie effekleurig bruin nie. As die vlerke ingevou is, vertoon geen wit vliegvere nie. In vlug is die stert effekleurig bruin en die wit in die vlerk strek nie tot by die lyf nie. Die mannetjie is beduidend groter as die wyfie, met ’n donkerder gesig.

DÍS HOEKOM HULLE BOTS

Sekere eienskappe maak die Ludwig-pou uiters kwesbaar vir botsings met kragdrade. In vlug het hulle beperkte visie en uitsig, en hulle vlieg gereeld in swak ligtoestande en in groepe saam. Boonop is hulle te groot en lomp om vinnig van rigting te verander wanneer hulle te laat ’n draad sien.

Navorsers van die Percy FitzPatrick-instituut aan die Universiteit van Kaapstad het die Ludwig-pouprojek van stapel gestuur om die invloed van hierdie onnatuurlike vrek- tes te bestudeer en moontlike oplossings te soek. Die instituut doen sedert 2009 opnames langs kraglyne in die Karoo. Daar is planne om dit na Namibië uit te brei. Tot dusver kon hy bevestig dat sowel hoë- as laespanningskragdrade tot ’n beduidende getal vrektes by Ludwig-poue lei. Bloukraanvoëls en gompoue bly in mindere mate in die slag.

Aangesien Ludwig-poue geneig is om seisoenaal nomadies rond te beweeg, is daar groot plaaslike verskille in die botsings wat aangemeld word. Die navorsers het agt mannetjies met satellietsenders toegerus om hul bewegings in ’n streek te probeer verstaan. Só kon hulle bruikbare data oor die poue se daaglikse gewoontes, slaap- en voerplekke, en die tyd wat hulle naby kragdrade deurbring, inwin.

MERK DIE LYNE

Onlangs is daar saam met die Trust vir Bedreigde Natuurlewe en Eskom begin met die grootste lynmerkprojek nóg. Wêreldwyd word merkers op drade aangebring waar gereelde botsings plaasvind, sodat die drade makliker sigbaar is vir die voëls. Tot dusver is nog nie voldoende bewyse gevind dat dit voorkom dat Ludwig-poue en bloukraanvoëls met kragdrade bots nie, dus toets hulle ook die twee soorte merkers wat tans in Suid-Afrika gebruik word.

Die lyn wat as eksperiment gebruik word, is 70 km lank en word elke ses weke gepatrolleer. In dié stadium lyk dit of die merkers wel vir bloukraanvoëls werk, maar dis nog te vroeg om te sê of dit ook vir Lud- wig-poue geld.

Boere en grondeienaars kan help om hierdie groot voëls te bewaar deur botsings met kragdrade by e-pos wep@ewt.org.za of 0860 111 535 aan te meld. Navorsers sal dan ondersoek instel en merkers aanbring, veral in gebiede waar botsings gereeld plaasvind. 

Dr. Anton Odendal is ’n lid van BirdLife Overberg en woon in Hermanus.
’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.