Mnr. Johan Viljoen,’n skaapboer van Burgersdorp, ontwerp en vervaardig die toestel. Die outomatiese klampstelsel maak arbeid minder, dip-en-dosering akkurater en die vaslegging van data betroubaarder en eenvoudiger. Die toestel bestaan uit twee non-return- opritte, ’n Body Clamp-eenheid met ’n skaal, ’n raakskerm vir datavaslegging, ’n elektroniese identifikasieleser, ’n doseringstelsel en outomatiese drierigting-klashekkies.

Die toestel weeg en bereken die korrekte dosis volgens elke skaap of bok se gewig en verminder só vermorsing. Dit is toegerus met ’n raakskerm van 7 duim vir die vaslegging en bywerking van data, soos ouderdom, geslag, skanderingsresultate, gebruiker, gewig en groeipersentasie.

Wanneer die take in die eenheid afgehandel word, kan die skape in drie rigtings geklasseer word, met die keuse om na vyf rigtings op te gradeer. Die klassering kan volgens die boer se behoeftes verstel word, soos gewigskategorieë, ouderdom en persentasie verandering in gewig.

Die klasseringshekkies word met die druk van ’n knoppie of met die hand beheer. Die operateur beheer ’n toelatingsknoppie wat die diere deurlaat. Ná al die werk afgehandel is, kan die inligting wat die dag ingesamel is, op ’n geheuestokkie gelaai word in ’n Excel- of CSV-formaat wat aan enige bestuursprogram gekoppel kan word.

Na gelang van die taak wat verrig word, is die werkspoed 240 tot 400 diere per uur vir ’n gemiddelde werkslading en 70 tot 100 diere per uur vir ’n swaarder werkslading. Vir werk in ekstensiewe toestande kan die toestel op ’n waentjie gebou word met ’n uittrekdakkie om die hanteerder en die apparaat te beskerm.

PRYS: Op aanvraag.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.