VRAAG: My dogtertjie het ’n waterhondjie gevang en wil dit graag aanhou. Mag ons en, indien wel, wat eet so ’n waterhondjie? Is dit net ’n larwestadium? Verander die waterhondjie dus in ’n ander insek of bly dit ’n waterhondjie?

ANTWOORD: Die swart keweragtige vorm wat op die oppervlak beweeg, is die volwasse stadium. Die volwasse mannetjies het gladde vlerkbedekkings, terwyl die wyfie s’n fyn groefies het.

Paring vind op die wateroppervlak plaas en die wyfie lê dan haar eiers op plante of ander voorwerpe op of na aan die bodem van die water waarin hulle leef. Elke wyfie kan tot 600 eiers lê. Die larwes broei uit en leef onder die oppervlak, gewoonlik naby die bodem.

Hulle haal asem deur veervormige kiewe en is aggressiewe vreters. Die mandiebels (monddele) waarmee hulle die prooi vang en droog suig, is sekelvormig. Wanneer hulle gereed is om in papies te verander, verlaat hulle die water en vorm ’n kokon in die klam grond naby die water.

Wanneer die volwasse insekte uitbroei, soek hulle ’n geskikte waterhabitat. Hulle vreet klein insekte en ander organismes. Om waterhondjies in ’n kunsmatige habitat aan te hou, sal beplanning kos, maar met genoeg toewyding kan die regte omstandighede geskep word.

Onthou net, die volwasse insekte het vlerke en hulle vlieg gewoonlik snags rond op soek na kos, ’n beter habitat of om te paar. 

Mnr. Victor Whitlock is ’n landboukundige.