Prikkels van aanraking en temperatuur wat deur die melkkoei se spene aangevoel word, word deur die senuwees geregistreer. Hierdie prikkels word na die melkkoei se brein herlei, waar die hipofise (pituitêre klier) geleë is. Die hormoon oksitosien word in dié klier bewaar.

As die senuweeprikkels die hipofise bereik, word oksitosien in die bloedstroom vrygestel en bereik die uier. Oksitosien veroorsaak die “melk-laat-sak-refleks”. Die hele proses (stimulasie tot laat sak) duur sowat 30 sekondes. As oksitosien die uierweefsel bereik, veroorsaak die hormoon sterk sametrekkings van die spierselle om die alveoli (eenheid wat melk vervaardig).

Die sametrekkings van die alveoli veroorsaak dat melk na die melkbuise uitgedruk word, wat tot in die klier- en speenholte van die uier gelei word. Hoe deegliker die voormelkstimulasie, hoe beter is die uitpars van melk en hoe vollediger en vinniger is die verwydering van melk tydens die melksessie.

Daar is dan so te sê geen of minder oormatige melk (daar is geen melkvloei vanaf die uier nie) en dus is daar minder of geen skade aan die speenkanaal of speenholte van die uier nie. Die verdedigingsmeganisme in die speenkanaal word ook nie beskadig nie en uiergesondheid is dus baie beter.

Koeie kry ook baie minder mastitis (ontsteking van die uier). Oormatige melk deur melkmasjiene beskadig die speenkanaalskans en die koei kry maklik mastitis. Hoe vollediger die melklaatrefleks is, hoe minder skade word aan die spene aangerig, veral indien die uier in daardie 5-7 minute wat oksitosien werk, uitgemelk word.

Vrees en spanning (veroorsaak deur geraas en swak melkportaalbestuur) beïnvloed melklating en veroorsaak ’n terughouding van melk. Die neuro- adrenaalstelsel met die gevolglike afskeiding van adrenalien en noradrenalien word geaktiveer, dus word die effek van oksitosien geneutraliseer.

Dr. Jan du Preez is ’n veterinêre spesialis.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.