Mnr. Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê in ’n MPO-aanwyserdokument dat voorlopige syfers daarop dui dat die aanbod van onverwerkte melk in Mei 3,92% hoër was as in Mei verlede jaar.

Die MPO het vroeër gesê dat melkproduksie in April onder druk was weens die styging in graan- en oliesadepryse, die laat en min reën oor groot dele van die land, en hoër as normale somertemperature.

Die MPO was van mening dat plaashekpryse nie voldoende gestyg het om vir dié faktore voorsiening te maak nie, soos gesien kon word in die daling van 3,8% in produksie in April, vergeleke met April ’n jaar gelede.

Veerkragtigheid

Van Heerden sê dit blyk nou dat die veerkragtigheid op produksievlak onderskat is en dat die verhoogde produksie in Mei ’n gevolg is van die verbeterde melk-tot-voerprysverhouding danksy hoër produsentepryse.

Die totale kumulatiewe aanbod van onverwerkte melk van Januarie tot April vanjaar is egter laer as in die voorafgaande vier jaar. Vergeleke met April 2018 was dit 12 % laer.

Van Heerden sê dat Suid-Afrikaanse melkboere se gemiddelde plaashekprys in Maart R4,60/liter was, wat naas Uruguay se R4,31/liter die laagste ter wêreld was. Ander belangrike melkproduserende lande se gemiddelde produsentpryse in Maart was R5,16/liter in Amerika, R4,81/liter in Nieu-Seeland (4,25% vet en 3,4% proteïen), R5,88/liter in Brasilië (3% vet), R5,41/liter in die Europese Unie en R5,10/liter in Pole.

Van Heerden sê internasionale suiwelprodukpryse was in die eerste vyf maande vanjaar in ’n sterk opwaartse kurwe weens robuuste uitvoervraag, lae beskikbaarheid vir uitvoer uit Oseanië, en stagnasie in melkproduksiegroei in Europa en Amerika, hoofsaaklik weens ongunstige klimaatstoestande.

Wat beteken dit vir SA?

Vir die Suid-Afrikaanse bedryf beteken dit dat produkte vir invoer hierheen moeilik bekombaar en ook duur gaan wees, sê Van Heerden.

Die plaaslike vraag na sekere produkte het in 2018 goed gegroei, soos 15% vir langlewemelk en 16% vir maas. Dit het wel met verlagings van 4% en 7% in kleinhandelpryse gepaardgegaan.

“Wat die styging in die vraag na suiwelprodukte soveel meer noemenswaardig maak, is dat dit gebeur teen die agtergrond van ’n swak Suid-Afrikaanse ekonomie en stukkelende verbruikers,” sê Van Heerden.

“In ’n bedryf wat die vermoë het om teen dié agtergrond steeds goeie groei in vraag te laat plaasvind, is dit belangrik dat die kapasiteit in die waardeketting mooi opgepas word.

“Ten opsigte van die primêre sektor is die behoud van kapasiteit belangrik, veral teen die agtergrond van die vermenigvuldiger-effek wat die sektor opwaarts en afwaarts in die waardeketting het,” sê hy.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.