Die voordele van deelname aan ’n veldramtoets is al wyd besing. Boere trek voordeel daaruit dat ramme met uitsonderlike groei en wolgehalte só in veldtoestande uitgewys word, want dit dui daarop dat hulle aangepaste vee vir hul betrokke toestande het.

Mnre. Leonard en Rodney Neuman, wat op plase tussen Vrede en Memel in die Noordoos-Vrystaat boer, glo vas aan die toets van hul diere in veldtoestande. Daarom is hulle lede van die Oos-Vrystaatse Veldramklub om hul Merino’s te laat toets. Hulle toets ook jaarliks hul ooie én Drakensberger-bulle op die plaas onder beskerming van Veldbul-Ram Suider-Afrika (VBRSA).

Landbouweekblad het Leonard op sy plaas, Cork, besoek. Hy is die enigste Merinoteler wat sedert die ontstaan van die veldramklub 34 jaar gelede steeds sy ramme daar laat evalueer. “Ek het ook eers, soos menige teler van buite die Karoo, ramme buite my gebied aangekoop. Ek was egter nie tevrede met die nageslag nie.”

Die keerpunt vir Neuman-Merino’s het in 1982 gekom toe hy as jong man saam met ander telers op ’n Merinotoer deur die Karoo was en groot telers besoek het. “Ek het teruggekom met ’n visie van hoe ek wil teel, naamlik om Merino’s te teel wat in veldtoetstande kan presteer.”

Toe die Oos-Vrystaatse Veldramklub in 1985 onder leiding van dr. Hannes Dreyer en mnr. Willem Marais gestig is, het hulle vir Neuman gesê dat dit die gulde geleentheid is om sy skape se tekortkominge vir hul streek se toestande te bepaal en dan daarop te verbeter. “Die hele Suid-Afrika plant tog nie dieselfde mieliekultivar nie, maar kultivars wat vir bepaalde gebiede se toestande geskik is. Net so bepaal die veld- ramtoets watter tipe skape die beste daar aard,” sê Neuman.

Dreyer, wat in daardie stadium ’n senior veekundige by die destydse Vrystaat-koöperasie was en intussen ’n onafhanklike veekundige geword het, is van die begin tot vandag die verantwoordelike beampte by die veldramklub wat sorg vir die insameling en verwerking van data. Hy is ook die VBRSA se besturende direkteur.

Hy sê die wolskaapbedryf trek nie slegs voordeel uit veldramme nie, maar ook uit die ooie wat dié ramme teel. Neuman teel ’n tipe Merino wat in die winter op sy soja- en mieliereste kan wei om die skrapse, suur winterveld aan te vul. Terselfdertyd moet die wol die regte olievloei hê om stofindringing te keer. Dis hoe baie boere op die oostelike Hoëveld boer. Hulle saai én het vee.

Hy vertel daar was in die beginjare van die klub ’n groot behoefte aan aangepaste ramme. “Veldramklubs sou tog nie ontstaan het as boere tevrede was met die beskik- bare ramme nie. Die rede hoekom boere hul ramme in veldtoestande begin toets het, is omdat almal elders ramme gaan koop het wat nie hier op die Hoëveld se suurveld aangepas het nie.”

vordering met legkaart

Toe Neuman in 1986 met sy ramme begin deelneem, was hy gereeld op moedverloor se vlakte. Hy het nie presteer nie, en eers dertien jaar later sy eerste eerbewys by die klub gekry. Hy kon egter sien hoe hy deurgaans vordering maak en het die feit dat hy aan die begin nie iets kon wen nie, as aansporing gesien om te verbeter. Dit was dus vir hom opbouende kritiek.

“Die eerste dertien jaar het my geleer dat ek kan vorder deur goeie, aangepaste ramme by ander lede van die veldramklub te koop om ’n bepaalde probleem reg te teel, hoewel jy nie een ram kry wat alle foute in ’n kudde kan verbeter nie. Ek en Rodney het altyd gesê: As jy ’n ram wil koop, koop dit by die veldramklub, want hy is getoets. Elders koop jy ’n ongetoetste ram.

“Ná dertien jaar het ons die vrugte van sukses begin pluk. Daarna het dit aanmekaar beter gegaan. Dis soos ’n legkaart. Aan die begin sukkel jy, maar namate jy vorder, pas die stukke al makliker in mekaar.”

Die Oos-Vrystaatse klub ken elke jaar eerbewyse toe vir silwermerieteramme, die beste ram en die beste teler. Neuman het eers net sy ramme getoets, maar mnr. Daan Cronjé, skaap-en-wolraadgewer van BKB, het aanbeveel dat hy die ooie ook toets. Neuman evalueer nou die ooie volgens dieselfde beginsels as die ramme om te verseker hy bly toegespits op aanpasbaarheid om die beste ooie in die stoetery te identifiseer. Omdat daar nie ’n veldooiklub is nie, doen hy dié evaluering op sy plaas volgens die VBRSA se riglyne. “Ons sukses met die veldramme was die inspirasie om die ooie te toets. Ons toets ook die ooie se groei en vag,” sê hy.

Mnr. Leonard Neuman by ’n trop van sy Merinoramme. Hy is al sedert die stigting van die Oos-Vrystaatse Veldramklub ’n aktiewe lid wat jaarliks ramme laat toets.
Mnr. Mathadene Bartman van BKB se skeerdiens gooi ’n wolvag oop in mnre. Kosie en Gerhard de Villiers se skeerskuur op Vrede. Mnr. Daan Cronjé (links) van BKB kyk toe.
Dr. Hannes Dreyer (regs), besturende direkteur van Veldbul-Ram Suider-Afrika (VBRSA), oorhandig ’n oorkonde aan mnr. Leonard Neuman van Neuman-Merino’s, Vrede. Dit word jaarliks toegeken aan die eienaar van die duurste veldram op enige veldramveiling waar ramme volgens VBRSA-standaarde getoets is. Neuman het in 2017 ’n ram vir R110 000 verkoop.

Ramme só getoets

Dreyer verduidelik die manier waarop ramme by die Oos-Vrystaatse Veldramklub getoets word. Die jong ramme word op die ouderdom van vier tot vyf maande (net ná speen) ingeskryf en ondergaan ’n aanpassingstydperk van twee maande waartydens hulle sjokolademielies en goeie ruvoer kry. Net voor die groeitoets begin, word die wol afgeskeer. Die toetsfase strek van Oktober tot Maart, waartydens die ramme op somerveld loop en ’n proteïenlek kry. Hulle word maandeliks geweeg.

Aan die einde van die toets keur drie paneellede die ramme visueel volgens rasstandaarde. Prulle word verkoop. Die beste ramme word met eerbewyse beloon. Ramme met die beste groeidata en dié wat geen prulfoute het nie, kan ’n silwermeriete-eerbewys kry.

Ooie vir superstoetery

Cronjé sê hy en mnr. Pieter Nel, sy BKB- kollega, beoordeel elke jaar sowat 3 500 jong ooie by die Neumans. Daarvan is 860 ooie in 2018 aan prestasietoetsing onderwerp – dit is dié wat die visuele evaluasie volgens rasstandaarde vir stoetteling geslaag het. Die teler kan die ooie wat nie die keuring slaag nie, as kudde-ooie vir die produksie van wol en slaglammers gebruik. Die stoetooie wat nie die prestasietoetsing in die veldtoets slaag nie, word ook kudde-ooie.

Die keuringstelsel wat hulle op Cronjé se aanbeveling volg, is dus om eers die beste ooie op visuele beoordeling volgens Merino- rasstandaarde uit te kies. Daarna volg ’n tweede keuringsproses en word die beste van die beste uitgekies.

In 2018 het 400 ooie oorgebly wat geskik was vir stoetteling. Hulle is weer gekeur en die 100 stoetooie met ’n seleksie-indeks van bo 105 is met groen oorplaatjies gemerk en in die Neumans se superstoetery opgeneem. Die superstoetooie word deur stoetramme gedek, en uit dié lammeroes word die volgende vervangingstoetramme geselekteer. Dit is nadat ook húlle die veldramtoets geslaag het.

opvolging van suksesverhale

Neuman skryf die sukses van sy Merino- stoetery toe aan sy deelname aan die veld- ramklub en die veldtoets op die plaas. “As dit nie vir die klub was nie, was ek nie waar ek nou is nie. Ek verkoop baie ramme en die getal topramme neem jaar ná jaar toe omdat ek danksy die veldtoets beter ramme teel. Ek is bly oor die geesdrif waarmee ver-skeie jong boere aan stoetteling deelneem. Hulle weet van die sukses danksy die veldramklub en wil self sukses behaal.”

Die nageslag van Neuman se veldramme presteer ook by ander telers en veldramklubs. “Die een teler se suksesverhaal word deur die volgende een se suksesverhaal gevolg.” Neuman moedig jong wolskaaptelers aan om aan die veldklubs deel te neem, en nie tou op te gooi as hulle nie dadelik begin presteer nie. Hulle moet die geleentheid eerder benut om foute reg te stel, “want dit is ’n inherente doel van die klub”.

Sommige boere neem net vir ’n jaar of twee deel en onttrek dan, voordat hulle die waarde van ’n veldramtoets besef. Dit is egter nie bloot ’n maklike afsetgebied vir ramme nie, en party boere is dikwels aan die begin ontnugter. Vir Cronjé is dit, as veekundige raadgewer, ’n riem onder die hart as telers sy raad aanvaar om sodoende vordering te toon. Hy skryf ’n groot deel van Neuman se sukses toe aan sy bereidwilligheid om altyd méér te leer. Neuman beaam dit: “Ek wil aanhou leer totdat ek doodgaan.”

Rampryse styg danksy hul waarde

Die pryse wat vir veldgetoetse ramme betaal word, neem stelselmatig toe namate die waarde van dié ramme vir kommersiële en stoettelers besef word. Mnr. Pieter Nel, skaap-en-wolraadgewer van BKB, sê dit blyk duidelik uit verkoopsyfers van die Oos-Vrystaatse Veldramklub en van Neuman-Merino’s op die afgelope drie jaar se veilings. Die tabel toon die syfers.

Veilingsdata van die Oos-Vrystaatse Veldramklub en Neuman-Merino’s

Veldramklub slaag in sy doel

Die veldrambeweging se sukses in die eerste drie dekades van sy bestaan spreek vanself: Boere vind baat daarby om hul ramme in veldtoestande te laat evalueer.

Dr. Hannes Dreyer, besturende direkteur van die VBRSA en die verantwoordelike beampte van die Oos-Vrystaatse Veldramklub, was die aanvoorder vir die stigting van dié klub in 1985, die sesde een in Suid-Afrika. Die afgelope paar jaar tree mnre. Kosie en Gerhard de Villiers van Vrede op as bestuurders.

Dreyer sê veldramklubs het eerstens gehelp dat daar nou gladdelyframme op die oostelike Hoëveld is wat genoeg wol produseer. Aan die begin is ’n telling vir plooie gegee, wat nie meer van toepassing is nie. Tweedens is daar ’n groter klem op vleis, nadat dit voorheen primêr op wolproduksie gerig was.

Die Merino het dus tot ’n dubbeldoelskaap ontwikkel. In tye toe wol nie goeie pryse behaal het nie, het die klem selfs na vleis beweeg. Ses jaar gelede het die geld wat ’n Merino vir sy eienaar ingebring het nog 70% van vleis en 30% van wol gekom. Sedertdien is daar weer ’n balans en is die karkas en wolvag se waarde ongeveer dieselfde, danksy ’n verbetering in die prys vir wol en skaap/lamsvleis.

KLUBS SE DOEL

Die uitgangspunt was van die begin om ramme op grond van hul prestasie te verkoop en nie net op subjektiewe eienskappe soos wol nie. Nog ’n oogmerk is om weg te beweeg van vetgevoerde ramme wat nie aangepas is nie. Die ram lyk dalk indrukwekkend, maar nie alle ramme sal in toestande presteer wat drasties verskil van dié waarin hulle geteel is nie, soos die Noordoos-Vrystaat met sy ysige winters en skrapse, suur winterweiding. Ramme van elders teel nie noodwendig goed in sulke vreemde toestande nie.

Dreyer sê telers koop sedert die ontstaan van die veldramklubs hul ramme op grond van belangrike eienskappe soos ekono-miese indekse, gemiddelde daaglikse gewigstoename en skoonvag- en liggaamsgewig. Daar is ook ’n verband tussen prys en meriete-eerbewyse, wat bewys die klub slaag in sy doel om die beste ramme aan te wys en dat die kopers daarmee saamstem.

Dreyer glo dat veldramme nie net tot stoettelers se voordeel is nie, maar ook vir kuddeboere wat hou van die ramme se eenvormigheid en goeie melkeienskappe wat aan die ooi-nageslag oorgedra word. Merino-speenlammers is in aanvraag. “Die toets het oor die jare feitlik dieselfde gebly, maar hierdie klub is die enigste waar ’n kondisietelling vir die ramme gedoen word. Dit word dan saam met die ander data gebruik om ’n ekonomiese indeks te bereken,” sê hy.

In ’n skeerskuur met Landbouweekblad se besoek aan Vrede. Van links is mnr. Daan Cronjé (BKB), dr. Hannes Dreyer (VBRSA), en mnre. Kosie de Villiers (Oos-Vrystaatse Veldramklub) en Pieter Nel (BKB).
Jong Merinoramme wat deur die Oos-Vrystaatse Veldramklub getoets is op die plaas Berlin, Vrede, van mnre. Kosie en Gerhard de Villiers. Agter is mnr. Pieter Nel van BKB.

DUISENDE GETOETS

Die klub is nou in sy 34ste jaar. Aan die begin is ongeveer 150 ramme jaarliks ingeskryf, waarvan byna die helfte uit ander dele van die land gekom het, die Karoo inkluis. Deesdae kom sowat 90% van die deelnemende ramme uit die oostelike Hoëveld. Die jaarlikse inname beloop gemiddeld 100 ramme, wat beteken sowat 3 400 ramme is reeds getoets.

Mnr. Daan Cronjé, skaap-en-wolraadgewer van BKB, sê tradisionele wolboere het meer vir bouvorm begin selekteer, sonder om die woleienskappe af te skeep, omdat stoorlammers met goeie vleiseienskappe dié jong skape is wat vir die voerkrale be- langrik is.

GEITE EN GIERE

Cronjé sê mense se geite en giere vir té sterk en té veel wol het die Merino skade aangedoen, maar die ras se veelsydigheid het hom gebring waar hy vandag is. Dit is ’n fenomenale wolproduseerder wat ook baie vleis dra, en is dus ’n volwaardige dubbeldoelskaap wat vir sy eienaar twee goeie inkomstebronne bied.

Nadat die klem eers op die verkeerde eienskappe gelê is, soos lyfplooie, het markkragte gelukkig bepaal hoe die moderne Merino moet lyk. “Die eenvormigheid in en tussen kuddes van eienaars wat veldramme gebruik, is insiggewend. Die tipe wolskaap wat deur die jare ontwikkel het, wys onteenseglik dit is ’n aangepaste tipe skaap.

“Deelnemers en klante van die Oos-Vrystaatse Veldramklub het die wol se mikrons ook gestabiliseer en dit beloop nou ongeveer 19-20 mikron. Die eenvormigheid van die wol vanaf die telers en distrik is voordelig vir aankopers op wolveilings, omdat die grootste deel van die nasionale wolskeersel in daardie groep lê. Dit vergemaklik ook die klassering van ’n skeersel.

“Ons mik na ’n hoëgehalte-, suiwer, wit wol, met ’n goeie lengte en digtheid en die regte olievloei om stofindringing teen te werk. Treksterkte en skoonopbrengs is ook belangrik.” Hoe meer jy meet, hoe meer wil jy weet, en die boer sê: Kom ons doen nóg meer moeite met ons vee. Dít is die waarde van veldramklubs. Die vee word gemeet sodat die boer kan weet wat hy het," sê Cronjé.

Navrae: Dr. Hannes Dreyer, 082 823 1045, e-pos: hannescjdreyer@gmail.com; mnr. Leonard Neuman, 072 535 0197, e-pos: leonardneuman@gmail.com

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.