Mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, moes noodgedwonge ’n amptelike skrywe aan wetstoepassers te rig omdat verskeie voorvalle voorgekom het waar die polisie in die Vrystaat veilings stopgesit het. Hoewel die landboubedryf as ’n  noodsaaklike diens verklaar is, het onsekerheid, weens lomp of ’n tekort aan voldoende regulasies, meegebring dat wetstoepassers selfs boere in hegtenis wou neem wanneer hulle veilings bygewoon het.

Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het met die begin van die inperking dit duidelik gemaak dat veilings en die verkoop van ander landboukommoditeite onder baie streng voorwaardes, wat die president aangekondig het, sal voortgaan. Sy het gesê dat nie meer as 100 mense ’n veiling mag bywoon nie.

Mlengana het dit ook duidelik gemaak dat hoewel veilings toelaatbaar is, die verkoop van drank onwettig is. Dit beteken dat as drank op ’n veiling verkoop word, sal die veiling die regulasie op die verbod op die verkoop van alkohol oortree en dan kan die veilingsperseel toegemaak word.

In sy skrywe het hy dit duidelik gestel dat die ekonomie van die land onder erge druk verkeer en dat die landbou nie net bydra tot die groei daarvan nie, maar ook tot voedselsekerheid.

Die skrywe is hier beskikbaar.

Vergadering

Tydens ’n virtuele vergadering van die parlement se portefeuljekomitee op samewerkende regering en tradisionele sake het mnr. Michal Groenewald, LP van die VF Plus, gesê hoewel die landbousektor as ’n noodsaaklike diens gesien word, is daar verskeie interpretasies oor wat toelaatbaar is.

“Baie boere, veral kleinboere en diensverskaffers in die landbouproduksieketting, word deur die polisie beboet of selfs in hegtenis geneem. Daar is onsekerheid rakende die permitte wat verlang word vir hierdie werkers om te reis of om noodsaaklike aktiwiteite te beoefen,” het hy aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gesê.

Hy het gesê hoewel die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling aangedui het dat veilings mag voortgaan, bied die regulasies nie duidelikheid hieroor nie en wetstoepassers meen dat veilings nie toelaatbaar is nie. “Die regsdepartement van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het aangedui dat geen veilings toelaatbaar is nie.”

Hy het Dlamini-Zuma gevra om so spoedig moontlik duidelikheid hieroor te gee.

“Daar moet regulasies afgekondig word wat die omstandighede uiteensit waaronder die veilings gehou kan word. Dit sluit in die spesifieke getal mense wat dit mag bywoon, en die spesifieke higiënemaatreëls wat gevolg moet word.”

Dlamini-Zuma het gesê me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het haar nie ingelig dat daar so ’n probleem bestaan nie en dat sy dit met haar sal opneem.