Die ikoniese bromvoël (Bucorvus leadbeateri) is onmiskenbaar – die groot, swart volwasse voëls word gekenmerk deur die rooi vel op hul gesigte. Dié voëls leef in ’n ingewikkelde sosiale stelsel, wat selde meer as een kuiken per jaar per kolonie voortbring.

’n Derde van die land se bromvoëls kom in die Nasionale Krugerwildtuin voor. Dit is belangrik om te kyk na die voëls wat buite bewaarde gebiede voorkom omdat die getalle daar steeds beduidend afneem.

Die status van die bromvoël in Afrika word as “kwesbaar” beskryf, terwyl die Suid-Afrikaanse en Namibiese bevolkings as “bedreig” verklaar is. Bromvoëls kom in ’n beperkte en hoogs gefragmenteerde verspreiding voor in die oostelike gedeeltes van Suid-Afrika van die noorde van Limpopo tot in die ooste van die Oos-Kaap.

Hulle verkies oop grasveld en bosveldhabitatte met groot bome. Bromvoëls vreet paddas, insekte, slakke, reptiele, voëls en klein soogdiere en sal aas op karkasse en afval, maar vreet selde plante. Bromvoëls slaap in bome of in klipperige rante, terwyl hulle bedags meestal op die grond op soek is na kos of hul gebied patrolleer.

Die nes is normaalweg in ’n groot, natuurlike gat in ’n boom wat met blare uitgevoer word. In KwaZulu-Natal is hulle geneig om op kranse en in sandbanke te broei.

Bedreigings

Een van die bedreigings vir bromvoëls is hul ingewikkelde sosiale stelsel. ’n Gesamentlike broeigroep kan bestaan uit twee tot nege individue, waarvan slegs die dominante paar broei en die res as helpers optree. Die dominante wyfie bly op die nes en die mannetjie en helpers voer haar en die kuiken.

Die voëls broei jaarliks en die wyfie lê een tot drie eiers. Die tweede kuiken vrek gewoonlik weens ontwatering en honger. Navorsing in die wildtuin toon aan dat daar gemiddeld slegs een kuiken per broeigroep elke nege jaar volwassenheid bereik. Hierdie lae broeisukses, tesame met die lang tyd wat dit kos om volwassenheid te bereik en die hoë sterftesyfer onder jong voëls, vererger die probleem.

Bromvoëls ervaar ook verskeie ander ingewikkelde bedreigings. Die voëls kom natuurlik in klein groepe voor, wat ’n groot gebied benodig om in te oorleef. Die gebied se grootte word bepaal deur die gehalte van die habitat. Die afname in hul getalle buite bewaarde gebiede word toegeskryf aan die verlies van habitatte weens die landbou en bosbou, bosindringing en sekondêre vergiftiging.

Die voëls se aggressiewe territoriale gedrag lei daartoe dat hulle vensters aanval en breek wanneer hulle met hul weerkaatsing in die vensters baklei.

Sekondêre vergiftiging geskied byvoorbeeld as die voëls vergiftigde aas vreet of as middels vir plaagbestryding onoordeelkundig gebruik word. Die verlies van groot bome om in te broei speel ook ’n groot rol. Die bewaring van bome waarin bromvoëls verkies om in te broei, soos die hardekool, is waarskynlik net so belangrik as die bewaring van die voëls self.

Sekondêre vergiftiging en voëls wat weens elektriese tranformators vrek, speel ’n groot rol in die afname van getalle. Ironies genoeg, die “vervolging” van bromvoëls het ’n groot impak op die voëls se voortbestaan. Die voëls se aggressiewe territoriale gedrag lei daartoe dat hulle vensters aanval en breek wanneer hulle met hul weerkaatsing in die vensters baklei. Spieëls, motorruite en blink bakwerk ontgeld dit ook gereeld.

Dit is veral gasteplase, plaashuise en landelike skole wat in stil tye deurloop. Daar is verskeie voor- sorgmaatreëls om weerkaatsings te verminder en te keer dat die bromvoëls vensters breek.

Help hulle bewaar

Die nasionale bromvoël-aksiegroep is gestig, met verskeie organisasies wat help. Die Mabula-bromvoëlprojek word deur BirdLife Suid-Afrika ondersteun en verskeie projekte is reeds van stapel gestuur. Lede van die aksiegroep verwyder die tweede kuikens uit neste en maak hulle met die hand groot om hulle later weer in die natuur vry te laat. Die verskaffing van nagemaakte neste het ook sukses opgelewer.

Ander ingrype sluit in die evaluasie van die voëls se gesondheid, navorsing en opvoedkundige programme om veral sekondêre vergif- tiging en die “vervolging” van voëls wat ruite breek, op te los.

Jan en alleman kan ’n belangrike rol in die bewaring van bromvoëls speel deur waarnemings van dié voëls aan te meld.

Die datum, getal voëls, asook ’n akkurate beskrywing van die plek waar die voëls gesien is, behoort aangemeld te word. Foto’s kan ook baie help, want daarmee kan navorsers die geslag van die volwassenes en die ouderdom van die jonges bepaal. Só kan die waarskynlike broeisukses van die groep bepaal word.

Alle waarnemings, maar veral voëls wat buite bewaarde gebiede gewaar word, kan by dr. Lucy Kemp by project@ground-hornbill.org.za aangemeld word.

Verdere inligting is beskikbaar by www.ground-hornbill.org.za

Talle voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste.

Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg en die Wes-Kaapse Voëlforum. Hy woon op Hermanus.

Die rooi vel op hul gesigte is kenmerkend van bromvoëls.