Die Namibiese staande komitee op natuurlike hulpbronne het met sy Suid-Afrikaanse eweknie, die portefeuljekomitee vir omgewingsake, bosbou en visserye, vergader om vas te stel hoe Suid-Afrika die kwessie hanteer.

Die giftige Dichapetalum cymosum kom veral voor in Suider-Afrika, Australië en Suid-Amerika. In Suid-Afrika word veral vee in Limpopo, Noordwes, Mpumalanga en Gauteng aan die plant blootgestel. Monofluoroasetaat is die gifstof in gifblaar. Die plant veroorsaak skielike vrektes van herkouers, veral beeste.

In Namibië kom dit in die oostelike en noordoostelike dele van die land voor. ’n Mosie om na ’n teenmiddel daarvoor te soek is in die Namibiese parlement aanvaar weens die duisende stuks vee wat jaarliks weens die plant vrek. Veral bestaans- en kleinskaalse boere wie se diere sonder inperkinge op grond wei en wat nie geld het om die plante te bestry nie, word deur die situasie geraak.

Me. Sophia Swartz-Fischer, voorsitter van die Namibiese staande komitee op natuurlike hulpbronne, het gesê tydens ’n uitreikprogram waar boere besoek is, het hulle gehoor baie diere vrek weens die plant. Die komitee wil nou meer leer oor die plant sodat hy voorstelle kan maak oor hoe die regering die probleem kan takel.

Die Namibiese afvaardiging het die plaaslike komitee meegedeel dat boere nou ander grond, waar geen gifblaar groei nie, van die regering wil hê. Daar is ook diegene wat voel die regering moet die koste dra om heinings op te rig om die diere van die plant af weg te hou.

Mnr. Fikile Xasa, voorsitter van die Suid-Afrikaanse parlement se portefeuljekomitee vir omgewingsake, bosbou en visserye, het aan die Namibiese afvaardiging gesê dat die Suid-Afrikaanse regering nie planne het om die plant uit te wis nie.

Hy het gesê 70% van die veevrektes aan die plant kom in Limpopo voor en dat veral kleinskaalse boere met die probleem gekonfronteer word. Die kommersiële boere maak met heinings seker dat hul vee nie by die plant uitkom nie. Daar is ook onkruiddoders waarmee dit bespuit kan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.