Dit word bestempel as ’n krisis wat buite beheer is, en dringende stappe is nodig om die algehele ineenstorting van die melkbedryf te voorkom. Daarom het mense in die melkbedryf op die jaarvergadering van die melkprodusentevereniging in Windhoek stappe bespreek om die bedryf van uitwissing te red.

Die weke lange sluiting van Namibian Breweries weens die Covid-19-pandemie weens ’n verbod op drankverkope het boere ook onkant gevang. ’n Neweproduk, brouersgraan, is ’n belangrike deel van die melkrantsoen. In dié tyd kon boere dit nie aankoop nie.

Volgens die Namibiese Landbou-unie (NLU) verlaat produsente die bedryf teen ’n ontstellende pas. Daar is nou net 12 melkboere oor teenoor 45 ’n paar jaar gelede. In 2018 is 24 miljoen liter melk geproduseer, in 2019 sowat 21 miljoen liter en produksie sal vanjaar na raming net 16,7 miljoen liter beloop.

Volgens die NLU is die enigste ligpunt dat al die betrokkenes in die melkbedryf gretig is om saam te werk aan maatreëls om die bedryf doeltreffend te bedryf, waaronder kostebesparende maatreëls op voer met pasgemaakte rantsoene vir individuele produsente wat deur die voermaatskappy Feedmaster geformuleer word, waarop hulle uitgawes kan bespaar.

Ondersteuning van die regering is ook as noodsaaklik vir oorlewing genoem, moontlik in die vorm van ’n melksubsidie om stygende produksiekoste teen te werk, nuwe beleggings in die melkbedryf om produksie te verhoog en beter beheer oor die invoer van melkprodukte. Dit word met die regering bespreek.