Veldbultoetse het sowat ses jaar gelede amptelik in Namibië begin. Hoewel sommige boere dit reeds vroeër gedoen het, het hulle nie noodwendig geweeg en gemeet nie. Nou kan boere amptelike veldbultoetse onder toesig doen om noukeurige, betroubare syfers oor hul bulle te kan verskaf.

Mnre. Dawid Krause van Windhoek en Lourens Swart van Gobabis, onderskeidelik korporatiewe handelsmerkspesialis en tegniese raadgewer by die stoetveediens van Feedmaster, ’n Namibiese veevoermaatskappy, speel ’n belangrike rol in die veldbulbeweging in Namibië.

Krause het sowat ses jaar gelede ’n kursus oor veldbulle by dr. Hannes Dreyer, stigter en verantwoordelike beampte van die oudste veldbulklub in Suid-Afrika, die Oos-Vrystaatse veldbulklub, voltooi. “Ek het nog altyd van die veldbulkonsep gehou, oftewel die toets van bulle in veldtoestande. ’n Tyd lank het ek dié toetse se belangrikheid onder boere se aandag gebring. Toe gaan doen ek die kursus om te leer hoe dit toegepas word en wat die beginsels is.”

In 2015 is Veldbul Namibië gestig nadat mnr. Gys Joubert van Dordabis sy bulle die vorige jaar as proeflopie geëvalueer het. Daarna het Krause nóg telers genader om hul bulle te toets. Hulle doen nie ’n gesamentlike toets met verskillende telers se bulle op een plaas nie, maar elkeen voer sy bulle self op sy plaas, volgens Veldbul Namibië se riglyne en met Feedmaster as toesighouer. Hulle het reeds elf telers se bulle (Brahman, Charolais, Bonsmara, Beefmaster, Simbra, Tuli, Afrikaner en Braunvieh) só geëvalueer.

Wen veld

Krause sê veldbultoetse wen veld omdat die telers daarby baat vind om hul bulle in hul eie plaastoestande te evalueer én metings aan te teken. “Talle veeboere toets reeds lankal hul bulle, maar het nie noodwendig geweeg en gemeet nie.”

Die toets strek oor ’n somer én winter om die bulle in alle toestande te evalueer. Buiten ’n onderhoudslek word geen ander byvoeding verskaf nie, want die bulle moet op die veld groei. ’n Ekonomiese indeks word dan uitgewerk om elke bul se waarde te bepaal. ’n Skaal van 1-9 (1 vir baie swak en 9 vir baie goed) word vir tien metings gebruik, waarvan sommige opsioneel is.

Die verpligte metings is:

Groei. Dit is wenslik om die bulle maandeliks te weeg, minstens drie keer (begin, middel en einde van die toets) om die gemiddelde daaglikse toename (GDT) te bereken.

Kondisie. Dit word bepaal elke keer as ’n bul geweeg word. Krause en Swart stem saam die kondisiebepaling is baie belangrik. ’n Bul sonder goeie kondisie is dié bul wat nie die veldtoets geslaag het nie, want hy sal nie die mas in plaastoestande kan opkom en koeie dek nie.

Hare. Hulle verkies ’n gladde haarbedekking. ’n Bees wat té harig is, is geneig om minder aangepas te wees. Lang hare is ook nie geskik vir Namibië se ekstensiewe toestande nie, want bosluise kan makliker aan sulke beeste vasheg. Die haartelling behoort hoër as 4 te wees.

Temperament. ’n Boer wil nie met ’n wilde bees sukkel nie, want dit verg ekstra arbeid en moeite. Só ’n bees hoort nie in ’n boerdery nie. Die bulle word as hulle geweeg word, daarvoor geëvalueer.

Skrotum. Die omtrek van die skrotum (teelballe) korreleer goed met vrugbaarheid. Dit moenie te klein wees nie. Meer as 32 cm is wenslik.

Bespiering. Die ideale bul is nie sterk voor en swak agter of andersom nie. Vleiseienskappe is immers belangrik, want dit is waaroor boerdery met vleisbeeste gaan. Die boer moet dus bulle gebruik wat dié gebalanseerde eienskap aan hul nageslag oordra. Dit word aan die begin en einde van die toets gemeet.

Opsionele metings

Die vier opsionele metings is:

Bosluise. Die bosluise op die bulle word getel; veral onder die stert, in die binnedye en agter die teelballe. Sommige beeste het minder bosluise as ander, al loop hulle in dieselfde trop. Dié diere word verkies omdat hulle minder behandeling verg.

Bekkengrootte. Sommige koeie sukkel weens ’n klein bekken om te kalf. Deur ’n bul met ’n groot bekken vir dekking te gebruik, word dié eienskap na die kalwers oorgedra. Dit is die betroubaarste meting om te voorspel of die koei maklik gaan kalf.

Gesondheid. ’n Telling kan vir elke bul se algemene gesondheid in die hele tyd toegeken word.

Hoogte. Dit kan aan die einde gemeet word. Heuphoogte gee ’n aanduiding van die raamgrootte.

Ekonomiese indeks

Boerdery gaan oor winsgewendheid. Daarom word ’n ekonomiese indeks ná die toets vir elke bul uitgewerk. Daarvoor word die tellings van die metings tesame met die Kleiberindeks (groei gedeel deur metaboliese gewig) gebruik. Krause evalueer dan die uitslae.

Bulle met ’n indeks van meer as 90 op ’n skaal van 100 wat ook struktureel korrek is, kry die spesiale veldbul-brandmerk. Enige bul met ’n indeks van 110 of meer, wat ook die visuele beoordeling slaag (7 of meer uit 10), word as ’n uitsonderlike bul beskou wat ook aan die rasstandaarde voldoen en ontvang ’n merietesertifikaat.

Die visuele beoordeling word deur gekwalifiseerde raskeurders gedoen. As ’n bul ’n indeks van 90 of minder behaal, slaag hy nie die veldbultoets nie.

Brahmanbulle in die veld waar hulle aan ’n veldtoets onderwerp word. Dit is die beste manier om te verseker bulle wat vir dekking geselekteer word, is gehard en aangepas. Foto’s: Charl van Rooyen
Mnr. Reini Rusch se plaas is reeds langer as 120 jaar in die familie se besit.
Die hoogteverskil op Lichtenstein-West is 400-500 meter tussen die hoogste en laagste dele. Dit bied besonderse eise aan die beeste wanneer hulle wei.
Jong veldbulle kry aanvanklik ’n energielek, maar ná hul aanpassingstyd­perk slegs ’n onderhoudslek, want hulle moet op die veld kan groei om veldbulle genoem te kan word.

Vrou toets bulle

Een van die boere wat aan veldbultoetse glo, is me. Bianca Lueesse wat saam met haar pa, mnr. Reini Rusch, met Brahmane, Simmentalers, warmbloedperde en wild op die plaas Lichtenstein-West naby Windhoek boer. Rusch sê dit is ’n ongenaakbare, klipperige omgewing met kwaai steiltes. Die hoogteverskil tussen verskillende dele van die plaas is 400-500 meter. Hul beeste moet dus in dié toestande gemaklik en ver kan loop om te wei.

Hoewel hulle met soetveld met ’n drakrag van 1 grootvee-eenheid op 10 ha (in goeie reëntye) geseën is, is die weiding meestal skraps. Hulle kry gemiddeld 400 mm reën per jaar en teel gevolglik vir geharde beeste. Daarom is veldbultoetse onontbeerlik om bulle (en hul nageslag) te selekteer wat in dié toestande die beste presteer.

Hulle hou gemiddeld 450 beeste (groot en klein) aan wat gewoonlik uit 60 Brahman-stoetkoeie en 120 Simmentaler-stoetkoeie bestaan. Die res is kalwers, jong verse en bulle.

Die beeste word in die winter en somer net vir ’n week op ’n keer in ’n kamp gehou. Daarom is die plaas in 60 kampe verdeel om seker te maak kampe word nie te swaar bewei nie. Die weiding kry dan heelwat herstelkans. “Water is skaars. Ons het meer as 50 km waterpyplyne aangelê wat water uit ses boorgate verskaf. Elke kamp se beeste het toegang tot skoon water,” sê Rusch.

Wetenskaplike boerderymetodes

Die plaas is reeds langer as 120 jaar in die familie se besit. Die oorspronklike familieplaas, Lichtenstein, is later in Lichtenstein-Nord, -Ost, -Süd en -West (Duits vir noord, oos, suid en wes) verdeel. Rusch het Lichtenstein-West in 1964 by ’n familielid gekoop en hy en sy vrou, Marlies, woon sedert hul troue in 1970 op die plaas. Sy oupa, Ernst Rusch, het in 1895 met Simmentalers begin boer. Reini se pa, Georg, het daaruit die Ruschberg-Simmentaler-stoetery geteel.

Later het Reini sy Lichtenstein-stoetery geregistreer. Nóg later het die Brahmane bygekom en die Bramarein-stoetery is begin. Sy dogter het haar ná haar B.Sc.Agric.-studies aan die Universiteit van Pretoria in 2001 by die boerdery aangesluit en mettertyd meer wetenskaplike boerderymetodes gevestig, waaronder die gebruik van Breedplan-teelwaardes.

Toets rasse saam

Lueesse doen die veldbultoetse met albei rasse in een trop en het reeds vier toetse afgehandel. Hulle word saam geweeg en dan word elke ras op sy eie geëvalueer. “Ons probeer om ál ons bulle só te toets. ’n Veldbultoets bestaan gewoonlik uit sowat 20 Brahmane en 40 Simmentalers. Ek het eendag op ’n boeredag van mnr. Diethelm Metzger by Seeis van veldbultoetse gehoor en besef dit maak sin. Daarna het ons ook dié toets begin doen. Ons meet en weeg reeds ons beeste volgens Breedplan se maatstawwe, maar ons meen die veldtoetse is méér prakties op bepaalde boerderytoestande gemik – maak nie saak waar ’n mens boer nie.”

Sy toets die bulle vir ’n jaar lank. ’n Inname moet slegs uit een kalftyd se bulle bestaan wat met inname verkieslik 11-15 maande oud is. Lueesse speen die kalwers middel Augustus waarna hulle nóg twee weke lank by die koeie loop om die speenskok te verlig. Hulle het dan ’n spesiale neusring sodat hulle nie aan die koeie kan suip nie.

Wanneer hulle ná twee weke na ’n afsonderlike kamp geneem word, kry hulle drie maande lank ’n energielek sodat hulle vinnig kan groei. In dié tyd word die jonger bulkalwers van die groter bulletjies afgesonder. Wanneer die veldtoets begin, loop almal egter saam in een trop.

Die veldbultoets begin in Desember, wat veronderstel is om die einde van die droë tyd in dié distrik te wees. Die bulle word dan geweeg, weer middel April of begin Mei, en die laaste keer met die afsluiting van die toets in November. Ingevolge die boerdery se normale program vir wisselweiding bly hulle net ’n week op ’n slag in ’n kamp. Dan word hulle na die volgende kamp gejaag. Hulle kry deurgaans net ’n onderhoudslek. ’n Gewone program word vir dieregesondheid en plaagbestryding toegepas.

Die bulle bly tydens die veldbultoets net ’n week op ’n slag in ’n kamp om oorbeweiding tot elke prys te vermy.
Twee mooi Brahman- bulle wat die veldbultoets met vlieënde vaandels geslaag het. In Namibië doen die boere hul eie veldbultoetse op hul plase.
Drie van Lueesse se Simmentaler-bulle wat ’n veldbultoets geslaag het. Hulle kan nou as goedgekeurde veldbulle bestempel word.

Ideale kombinasie vir ekstensiewe veeboerdery

Goeie groeisyfers en gewenste strukturele eienskappe is die ideale kombinasie vir ekstensiewe veeboerdery, sê Lueesse. Dié bulle is gehard en aangepas, voldoen aan die raseienskappe en teel goeie nageslag. ’n Beesboer kan dan op grond van kennis van sy eie kudde besluit watter veldbulle hom die beste sal pas en bepaalde eienskappe sal verbeter. Die boer besluit dus ná die veldtoets watter bulle hy vir homself wil hou.

As hy sommige van die bulle wil verkoop, kan hy hulle eers afrond om in ’n beter kondisie te kom, want boere verkies steeds bulle in ’n goeie kondisie. Die bulle het hulself immers reeds in veldtoestande bewys.

Sy sê haar bulle is twee jaar of ouer wanneer die veldbultoets verby is en gereed vir dekking. Dan besluit sy watter bulle sy gaan behou en watter bulle sy uit die hand gaan verkoop. Die bulle wat nie die veldtoets slaag nie, kan ’n bietjie langer op die veld gehou word en daar ekstra voeding kry om swaarder te word voor hulle as slagbeeste verkoop word.

Pryse vir teelbulle én slagbeeste wissel baie in Namibië omdat droogtes so gereeld voorkom. Alles hang af van die reën en veldweiding. “Dit is noodsaaklik dat ons aanhou met stoetteling omdat ons teelmateriaal so waardevol is. Ons familie boer al langer as 120 jaar met Simmentalers en langer as 40 jaar met Brahmane. Dit is waardevolle teelmateriaal wat in landsbelang behou moet word. Nogtans is dit nét so belangrik dat ons beeste gehard en aangepas moet wees om sonder byvoeding op die veld te kan reproduseer, wat die noodsaaklikheid van veldtoetse beklemtoon,” sê sy.

Haar filosofie is dat ’n goeie bul net soveel geld werd is as vyf osse; gewoonlik vanaf R50 000. “ ’n Boer wat goeie beeste teel, verdien immers ’n goeie prys. Ons bestee baie tyd en geld aan boerdery,” sê sy.

Swart sê dié som kan ook aan die hand van speenkalwers gemaak word. Sewe tot agt speenkalwers behaal saam ook ongeveer R50 000. “Ongelukkig wil sommige boere baie geld vir hul speenkalwers hê, maar is nie bereid om ’n billike prys vir ’n goeie bul te betaal nie. Dan skaad hy sy eie reproduksie.”

Krause beklemtoon dit is belangrik dat boere ophou om goedkoop bulle te koop wat nie op die veld getoets en gekeur is nie. Sulke bulle sal tien teen een swak speenkalwers teel. Aan die ander kant weeg goedgekeurde bulle se kalwers met speen maklik 30 kg méér as swak bulle s’n. Uiteindelik gaan dit oor hoe ’n bul op die veld gedy, of hoe goed hy by die betrokke toestande aangepas is. Dit bepaal hoe hy in daardie toestande gaan teel sonder om gepamperlang te word.

MNR. DAWID KRAUSE

LBW vra . . .

MNR. DAWID KRAUSE

Watter tegnologie is onmisbaar in veeboerdery in Namibië?

Volhoubare veeboerdery in alle toestande met die kenmerke dat ekonomiese boerdery gehandhaaf kan word om die hoogste produksie moontlik te bevorder.

Wat is die beste raad wat jy al gekry het?

Jou raad is slegs betekenisvol as iemand daarom vra.

Wat is die grootste landboufout wat jy gemaak het?

Dat ek nie my eie beesboerdery op die been gebring het nie.

Wie was jou mentor?

Eerstens ons Hemelse Vader wat my die voorreg gegee om in die landbourigting by Sy Skepping betrokke te kan wees. Ook Rumevite en Feedmaster en al hul mense en elke boer wat my ondervinding en kennis van hierdie ongelooflike boerderybedryf help vorm het.

Wat is die grootste probleme vir boerdery in Namibië?

Droogtes, beskikbare landbougrondstowwe, invoerkoste, uitvoer van lewende vee en volhoubare markte vir Namibiese vleis.