Volgens prof. Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Landbou- en Voedselbeleid (BFAP), het die uitvoer van beesvleis ’n invloed van sowat R1,6 miljard op die totale bedryf.

“Bek-en-klouseer is in dié stadium baie geïsoleer en in ’n baie spesifieke area. Ons sal moet belê in ’n beter naspeurbaarheidstelsel, dis al. Almal het geweet dis ’n groot risiko wat op pad is, en ons kon iets daaraan gedoen het. Dit sal sowat R40 miljoen kos om so ’n stelsel te ontwikkel. Ek besef jy het instellings nodig om dit te bestuur en die Regering sal ’n belangrike rol moet speel, maar ons moet om ’n tafel gaan sit hieroor,” het hy op die KwaZulu-Natalse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se streekvergadering op Dundee gesê.

Mnr. Willie Clack, nasionale ondervoorsitter van die RPO, het gesê Suid-Afrika is die enigste land in Afrika sonder ’n behoorlike naspeurbaarheidstelsel. “Dit gaan my verstand te bowe. As ons so ’n stelsel gehad het, sou ons nie so ’n groot probleem met bek-en-klouseer gehad het nie. Ons werk egter hard daaraan en sal bek-en-klouseer as ’n eksperiment gebruik om die stelsel op dreef te kry.”

Die siekte is in Limpopo in die distrik Vhembe opgespoor. Tot dusver is sowat 15 500 diere geëent, waarvan 4 500 buite die beheersone is, sê Clack.

“As alles volgens plan verloop, sal ons binne die volgende paar maande ’n beperkte gebied hê, maar ons sal nie ons uitvoerstatus voor Mei volgende jaar terugkry nie.”

Volgens mnr. Hendrik Botha, voorsitter van die RPO in KwaZulu-Natal, heers daar kommer oor die manier waarop bek-en-klouseer beheer word. “Naspeurbaarheid sal op lang termyn ’n antwoord wees op al ons probleme.”

Vleisuitvoer was ‘goeie storie’

Volgens Clack voer Suid-Afrika sowat 3-4% van sy vleis uit. “Dit sal sowat R40 miljoen wees om naspeurbaarheid op dreef te kry, maar dit gaan die land R1,6 miljard bespaar. Hoe gouer ons as boere reageer, hou gouer gaan ons ons uitvoerstatus terugkry. Dis ons verantwoordelikheid.”

Meyer het beesvleisuitvoer as een van die veebedryf se “goeie stories” bestempel.

“Vyftien jaar gelede was Suid-Afrika ’n netto invoerder van beesvleis, nou was die land ’n netto uitvoerder. Die volumes is nie groot nie, maar dis ’n wonderlike meganisme om kommoditeite met ’n hoë waarde uit ons mark te kry. Ons ontleding toon dat as ons uitvoer uit die prentjie haal, het dit ’n invloed van sowat R2 per kilogram (karkasgewig).”

Die bedryf het egter die afgelope tyd gesien dat dit nader aan R8-R10 per kilogram is.

“Ons glo daar sal oor die volgende twee tot drie maande ’n herstel in vleispryse wees, maar dit hang af van wat met die droogte en mieliemark gebeur. Vleispryse het die afgelope paar maande skerp gedaal weens ’n perfekte storm van droogte, hoë mieliepryse en bykomende verskaffing omdat boere hul drakrag in gedagte hou. Toe kom bek-en-klouseer boonop ook, wat beteken die uitvoermarkte het toegemaak.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.