Dié landgoed het sy Nguni-stoetery 10 jaar gelede geregistreer. Daar is tans 340 Nguni-beeste in die stoetery. Altesaam 146 van die stoetery se koeie is dragtig en sal na verwagting van Junie tot September kalf.

Koeie het gewoonlik net een kalf en slegs in uitsonderlike omstandighede ’n tweeling, sê mnr. Eben Olderwagen, Vergelegen se omgewingsbestuurder. “Die koei sal gewoonlik die sterker kalf kies en die ander een verwerp. Dit was die geval toe ons die tweeling, die eerste Nguni-tweeling wat op die plaas gebore is, verwelkom het.”

Die kalf wat die koei verwerp het, heet nou Nina en sal met ’n bottel gevoer word tot sy deel kan word een van die kleiner troppe op die landgoed. “Sy floreer op die oomblik,” sê Olderwagen.

Die 11 bonteboklammers wat die landgoed gedurende
Die 11 bonteboklammers wat die landgoed gedurende die afgelope paar maande verwelkom het, het die totale aantal bontebokke op die landgoed tot meer as 50 opgeskuif. Foto: Verskaf

Die 11 bonteboklammers wat die landgoed gedurende die afgelope paar maande verwelkom het, het die totale aantal bontebokke op die landgoed tot meer as 50 opgeskuif. Die eerste 13 bontebokke is 11 jaar gelede op die plaas verwelkom.

Volgens mnr. Wayne Coetzer, uitvoerende hoof van Vergelegen, is die landgoed se grootste prioriteit om sy personeel se veiligheid te handhaaf, terwyl omgesien word na al die noodsaaklike verpligtinge op die plaas.

Hy sê dit is goed vir die gemoed om te hoor dat die natuur floreer al beleef die wêreld ’n moeilike tydperk weens onder meer die Covid-19-pandemie. “Hoewel ons nie nou besoekers mag ontvang nie, is dit vir ons lekker om hierdie goeie nuus bekend te maak. Dit is nou belangriker as ooit om ’n verbintenis met die natuur te hê.”