Dit is volgens ’n studie wat deur dr. Bradley Case van die Auckland Universiteit van Tegnologie (AUT) gelei is, en deur Beef + Lamb New Zealand aangevra is. Daarvolgens absorbeer houtagtige plantegroei gemiddeld omtrent 90% van vrystellings wat deur landbouverwante bedrywighede op Nieu-Seelandse skaap- en vleisbeesplase veroorsaak word. Die studie sluit nie melkbeesplase in nie.

Die plantegroei ter sprake bestaan uit 1,52 miljoen hektaar inheemse woud en 0,48 miljoen hektaar uitheemse plantegroei.

Mnr. Sam McIvor, die uitvoerende hoof van Beef + Lamb New Zealand, het gesê absolute kweekhuisgasvrystellings deur skaap- en vleisbeesproduksie in die land het sedert 1990 met 30% gedaal.

Hy sê die navorsing wys dat verreweg die meeste van die vrystellings wat steeds veroorsaak word, deur bome op plase opgeneem word. “Nieu-Seelandse skaap- en vleisbeesboere is sterk op pad om teen 2050 koolstofneutraal te wees.”

Dit raak daarom toenemend belangrik dat boere formele erkenning kry vir die rol wat hul plase in vasleggingspogings speel. Tans kom die meeste plantegroei op hierdie plase egter nie in aanmerking vir insluiting in die land se ETS-stelsel waardeur daar handel gedryf kan word in sogenoemde koolstofkrediete tussen entiteite wat hoë en lae hoeveelhede vrystellings veroorsaak nie. Dit is omdat die plantegroei nie as woude gedefinieer word nie.

“Die klem was tot dusver eerder op die bydrae wat vee tot klimaatsverandering lewer weens kweekhuisvrystellings as op vaslegging. Dit maak egter sin om soos met enige produk die hele besigheid – in hierdie geval ’n hele plaas – in ag te neem binne konteks.

“As boere ’n prys moet betaal weens landbouverwante vrystellings, behoort dit net regverdig te wees dat hulle ook krediet kry vir vaslegging,” sê McIvor.