Die Shearer Management System toepassing van Cape Wools vorm deel van die Sustainable Cape Wools Standaard  en spreek een van die maatskaplike kwessies van die bedryf, die skeerders aan. Die toepassing sal ook dien as ’n databasis van Suid-Afrikaanse skeerders en hulle vaardighede.

Skeerders met opleiding en die nodige sertifikasie sal op die databasis gelaai word, met  nagenoeg 4800 skeerders wat reeds gelaai is.

Die toepassing kan deur kontrakteurs, boere, skeerders en makelaars gebruik word. Die toepassing bied ondermeer ’n gids (directory) van al die skeerders en daar sal aangedui word watter skeerders nie allokeer is, werkloos is, of permanente skeerders is. Indien ’n skeerder permanente aangestel word sal slegs die maatskappy wat hom aanstel sy besonderhede kan sien.

Geregistreerde instellings wat skeeropleiding bied kan ondermeer die bestuurstoepassing gebruik om die opleiding van skeerders op te dateer of om nuwe opgeleide skeerders op die sisteem te laai. Die inligting kan deur skeerspanbestuurders/kontrakteurs gebruik word om ’n span mee op te bou.

Al die beskikbare skeerders sal op die toepassing gelys word en produsente kan die toepassing gebruik om ’n span aan te vra.

”Hy kan kies wie sy makelaar is of ’n onafhanklike skeerspan kies en sodoend e’n span vra om te kom skeer,” sê Deon Saayman bestuurder van Cape Wools.

Evalueer

Die toepassing kan deur boere gebruik word om die skeerders te evalueer, maar die spanne kan boere ook evalueer ten opsigte van die vereistes vir skeerspanne, soos daar gestel deur die bedryf se standaard.

“Ons in die wol- en bokhaarbedryf het op ‘n stel standaarde ooreengekom wat die minimumvereistes is waaraan voldoen moet word deur boere wanneer skeerders na hulle plaas toe kom, soos akkommodasie of fasiliteite vir die skeerders.”

Aangesien dieselfde skeerder vir beide wol en bokhaar gebruik sal word sal die toepassing vir beide gebruik kan word. Die sybokhaarbedryf sal egter voorsiening maak vir die registrasie van boere wat nie ook met skape boer nie.

Dit is soortgelyk aan evaluering wat gesien word in verblyftoepassings soos AirBnB of Booking.com, verduidelik Saayman.

“Ons weet dit sal tyd neem vir almal om dit te gebruik, maar dit is iets wat ons kan begin gebruik. Daarby is die evaluering ten tye van die skeer proses op die plaas. Dit is soortgelyk aan Booking.com of AirBnB, en sodra die instelling jou begin evalueer begin jy terug evalueer en dit is die beginsel wat ons wil begin aanmoedig.”

Produksie-adviseurs sal getaak word om tekortkominge in terme van die SCWS met betrokke partye aan te spreek indien boere of skeerders ’n negatiewe evaluering sou ontvang.

Boere sal danksy die toepassing weet hoe die span lyk wat na sy plaas toe kom om te skeer.

“Dit is ’n belangrike hulpmiddel vir al die rolspeleers waarop ons kan bou in die toekoms.”

Boere moet ’n verkopersverklaring (vendor declaration) voltooi, wat deel vorm van die Sustainable Cape Wools Standard. Dit kan aanlyn gedoen word voor hy van die skeerders se dienste gebruik maak, of andersins met aanvang van die skeerproses. Klik hier daarvoor.

Die verklaring sal ook aan die toepassing gekoppel word en word geïntegreer in die asseseringsproses van die standaard.

Die toepassing kan op die Google Playstore gevind word indien Shearer Management System ingetik word en gebruikers kan registreer by admin@webroute.co.za. Daar word ondersoek ingestel om die toepassing op die Apple iStoreplatform te registreer.