Die begrip “stywesiekte” in Afrikaans word gebruik om siektes by beeste te beskryf wat verskeie oorsake het. “Stywesiekte” word veral gebruik vir ’n sin- droom wat deur ’n fosfaattekort veroorsaak word, drie-dae-stywesiekte (wat deur ’n virus veroorsaak word) en ’n toestand wat deur ’n plant, Crotolaria burkeana, veroorsaak word.

Die stywesiektebossie Crotolarea burkeana groei veral in beboste grasveld; oop, sanderige gebiede; ou, bewerkte lande; uitgetrapte veld; en versteurde grond. Die bogrondse deel van die plant is baie gevoelig vir ryp en vrek in die winter. Die plante is wydverspreid in Mpumalanga, Noordwes, Limpopo, die Noord-Kaap en Botswana.

Die plant behoort aan die ertjiefamilie, groei sowat 400 mm hoog en dra geel blommetjies met ’n paar rooi strepies op die agterkant en peule. Soms word die plant ook klappers genoem. Donkies en perde kan ook van die plant vergiftig raak. C. rhodesiae veroorsaak stywesiekte in Limpopo, en ander Crotolaria-spesies kom in Namibië en Zimbabwe voor.

KLINIESE TEKENS

Die plant veroorsaak ’n ontsteking van die binneste gedeeltes van die hoef. Dit gaan gepaard met pyn wat veroorsaak dat die bees, perd of donkie styf, versigtig en ongemaklik loop. Die diere lê meestal, is onwillig om te loop, en drukking op die hoewe, byvoorbeeld met die hand, veroorsaak pyn.

Gewoonlik is die pote warm. Die diere vermaer vinnig. By melkkoeie verminder die melkproduksie ook aansienlik. Ná ’n paar dae lyk dit of beterskap intree, maar ná ’n paar weke begin die hoewe lank uitgroei en vorentoe omkrul. Dit bemoeilik die loopvermoë van die dier verder.

Die oorgroei van hoewe kan ook voorkom as diere lank op stal gehou word en as hulle op sandveld loop en hul hoewe nie slyt nie. Die hoewe van beeste en wild kan ook vervorm raak weens bek-en-klouseer. Die hoewe van diere wat hoë-energierantsoene gevoer word, groei ook uit weens histamien-geïnduseerde laminitis.

BEHANDELING

Geen doeltreffende geneesmiddel is bekend nie, maar die volgende kan gedoen word sodra dit lyk of die dier siek word: Gee ’n groot dosis van ’n purgeermiddel sodat die dier goed lakseer.

Laat die dier ’n paar uur elke dag in koue water staan — net die hoewe hoef onder die water te wees. Die lang uitgegroeide hoewe moet geknip word sonder om die lewende weefsel te beseer.

VOORKOMING

Deur goeie veldbestuur kan die voorkoms van die plante beperk word, want waar grasbedekking goed is, kom weinig probleemplante voor.

CHRONIESE VERGIFTIGING

In Amerika is daar ’n chroniese seleenvergiftiging wat alkali disease genoem word. Dit word veroorsaak deur die daaglikse inname van plante of graan met ’n seleeninhoud (10-30 dele per miljoen). Die diere toon gewoonlik strawwe pika (diere vreet vreemde voorwerpe) en die hare val op plekke uit.

Die hoefkroon word pynlik en die hoewe groei lank uit of stukke daarvan kan selfs afbreek. Die diere is dan ook altyd erg kruppel. By skape sien ’n mens selde die hoefletsels. Alle diere wat aangetas is, raak erg bloedarmoedig.

BRONNE: Kellerman, T.S., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. en Botha, C.J. 2005. Plantpoisonings and Mycotoxicosis of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press. Mönnig, H.O. en Veldman, F.J. Handboek oor Veesiektes.1975. Tafelberg-uitgewers.

Dr. Faffa Malan is bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.