Dr. Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, sê die siekte hou ’n baie groot risiko vir Suid-Afrika in aangesien die bruinoorbosluis, wat die siekte oordra, wydverspreid in die land voorkom. “Die siekte word aanvanklik deur die bruinoorbosluis van buffels af aan beeste oorgedra. Buffels dien ook as onderhoudsgasheer van bek-en-klouseer, asook korridorsiekte, wat geneties baie nou verwant aan ooskuskoors is.”

Odendaal sê die buffels wat op plase buite die Kruger-wildtuin en in Noord-KwaZulu-Natal aangehou word, is nog skoon van dié siektes. 

’n Ernstige bedreiging

Mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê die RPO beskou die jongste bedreiging van ooskuskoors in ’n ernstige lig. “Ons het derhalwe die dieregesondheidsforum versoek om ’n strategie in te stel om die siekte in Suid-Afrika te help voorkom. Suid-Afrika het die siekte reeds meer as 65 jaar gelede binne sy grense uitgeroei. Ons is bekommerd oor die risiko wat diere uit buurlande vir die plaaslike kudde kan inhou.”

Schutte meen op lang termyn is die opspoorbaarheidstelsel waaraan verskeie belanghebbendes binne die veebedryf werk, insluitende die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, die oplossing. “Dit gaan egter nie oornag gebeur nie. Daarom moet ons nou spesifiek oplet na bewegingsbeheer.”

Hy sê daar word fluks gevorder met ’n volhoubare opspoorbaarheidstelsel vir Suid-Afrika. Die RPO het reeds R100 000 bewillig, terwyl die departement van landbou R5 miljoen bygedra het tot ’n oorplaatjiestelsel binne Suid-Afrika se bek-en-klouseergebied.

“Uiteindelik is dit net goeie sakebeginsels om na jou dieregesondheidstelsels om te sien. In Suid-Afrika het R2 miljard se beesvleisuitvoer tot stilstand gekom weens die uitbreking van bek-en-klouseer vroeër vanjaar. As ons dus soortgelyke uitbrekings kan voorkom, kan ons weer die ekonomie daardeur help verbeter.”

Grensbeheermaatreëls reeds ingestel

Weens die bedreiging wat ooskuskoors inhou, het belanghebbendes reeds begin werk om te verseker dat Suid-Afrika se grensbeheer verbeter word.

Me. Marzanne Polydorou, dieregesondheidsbeampte van die nasionale dieregesondheidsforum, sê die forum het met die samewerking van onder meer die departement van landbou en die departement van openbare werke reeds ’n komitee gestig om die grenssituasie so spoedig moontlik op te los. “Benewens ooskuskoors is daar kommer dat Zimbabwe een van die buurlande is vanwaar dieresiektes Suid-Afrika kan binnekom. Dit is dus nou ons vernaamste om te verseker dat die grens met Zimbabwe herstel en deeglik in stand gehou word.”

Polydorou sê ’n span onder leiding van dr. Marietta Bronkhorst, adjunkdirekteur van die afdeling siektebeheer by die departement van landbou, is besig met die fisieke onderhoud en herstel van die grens. “Ongelukkig is daar steeds die kwessie van hulpbronne wat ’n stokkie in die wiel steek, maar me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het in haar begrotingstoespraak reeds gesê van hoeveel belang biosekuriteit vir die departement gaan wees. Ons glo dus dat hierdie kwessie met die nodige dringendheid benader sal word.”

Volgens Polydorou sal stappe voortdurend gedoen word ten einde die risiko van ooskuskoors en ander dieresiektes te probeer beperk. “Ons het reeds die uitwerking van bek-en-klouseer op die veebedryf gesien. Ons kan nie bekostig om weer ’n soortgelyke situasie op hande te hê nie.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.