Hy is veral opgewonde oor die ontwikkeling van die mark vir vleis en vleisprodukte. Streeksintegrasie geniet voorrang op die agenda vir die gebied suid van die Sahara, wat die ontwikkeling van groot produktemarkte vir landboukommoditeite insluit. Die landbou is baie aantreklik vir veral die private sektor en lewer ’n groot bydrae tot finansiële markte.

Verstedeliking gee groot stukrag aan markontwikkeling. Na verwagting sal 56% van dié deel van Afrika se bevolking teen 2040 in stede en dorpe woon. Dit sal ’n massiewe stedelike mark vir voedsel oopmaak wat teen 2030 sowat R6 biljoen ($400 miljard) sal bedra. Suid-Afrika produseer reeds 20% van al die vleis op die vasteland.

Oberholster het gesê daar is wêreldwyd ’n sterk groei in die vraag na vleis en vleisprodukte, onder meer danksy die groeiende middelklas wat teen 2030 sowat 66% groter as tans gaan wees. Dit beteken 3 miljard méér verbruikers met ’n groeiende bestedingsvermoë. Rooivleis is deel van hul voedselmandjie.

Suid-Afrika het ’n beeskudde van 13 miljoen diere, wat baie klein in is vergeleke met dié van Brasilië (211 miljoen), Amerika (89 miljoen) en Argentinië (51 miljoen). Die verskillende beesrasse en die lewendehawesektor moet dus ’n keuse maak: Gaan hulle voortgaan om bloot ’n kommoditeit te produseer en dus ’n prysnemer te bly, of gaan hulle hul produk differensieer?

As die keuse op laasgenoemde val, moet hulle ag slaan op die verbruiker se vereistes vir beter gehalte en veilige voedsel, wat ook op rooivleis van toepassing is, het hy gesê. Dit sal van produsente vereis om unieke eienskappe soos marmering en gesondheidsvoordele te identifiseer en wetenskaplike bewyse daarvoor te kry, dié inligting aan die verbruiker te verskaf en naspeurbaarheid toe te pas, tegnologie te gebruik en handelsmerke aan te hang. 

BKB Afrika Lewendehawe-ekspo (ALE) logo, ALE logo
Die BKB Afrika Lewendehawe-ekspo (ALE) se amptelike logo

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.