Volgens mnr. Wallie Weeks, bestuurder van vesel by OVK, sal Suid-Afrikaanse makelaars volgens Lesotho se regulasies steeds wol en bokhaar in Lesotho moet bemark en hanteer waarna dit na Suid-Afrika na die hawens óf vir verwerking uitgevoer kan word.

Lesotho het verlede jaar nuwe regulasies ingestel waarvolgens wol en bokhaar slegs binne Lesotho verkoop kan word. 

Volgens mnr. Isak Staats, bestuurder van wol en bokhaar by BKB, sal dit nog baie werk verg om ’n nuwe stelsel in werking te stel.

Volgens Staats kan dit vanaf ses maande tot ’n jaar duur om ’n nuwe proses en stelsel vir Lesotho se nagenoeg 5 miljoen kilogram wol in werking te stel.

Wol wat internasionaal verhandel word, moet ’n internasionaal erkende woltoetsproses ondergaan. Die woltoetsburo in Port Elizabeth is tans die enigste van sy soort in Afrika wat dié dienste bied. Tydens ’n vorige besoek aan Suid-Afrika het afgevaardigdes van die wol- en bokhaarbedryf in Lesotho aangedui dié land het nie die geld vir sy eie toetssentrum nie.

Volgens Weeks moet die kostedoeltreffendheid van dieselfde stelsel wat in Suid-Afrika bestaan, vir Lesotho nog ondersoek word.

“Jy kan nie ons stelsel, wat oor amper 100 jaar ontwikkel is, in Lesotho herhaal nie, daar sal wesenlike koste-implikasies wees.”

Hy sê daar is ’n moontlikheid dat dieselfde toetsproses as voorheen gevolg sal word en dat die monsters na Suid-Afrika gestuur word en die wol en bokhaar in die makelaars se huidige uitstalruimte vir kopers vertoon sal word. Die kooptransaksie sal egter steeds in Lesotho plaasvind met die opsie vir kopers om in Suid-Afrika na die wol of bokhaar te kyk.

Weeks voeg by hoewel daar tans aandag aan Lesotho geskenk word, die hervatting van wolveilings in Suid-Afrika van die uiterste belang is vir die voortbestaan van die plaaslike wolbedryf.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.