Só het mnr. Philip Duminy, streekskoördineerder by OVK, op vanjaar se Nampo Kaap, wat van 4 tot 6 September in Bredasdorp gehou is, aan Landbou.com gesê.

Duminy het gesê ten spyte van die probleme wat tans kop uitsteek, voel OVK optimisties oor die plaaslike wolbedryf. “Ons meen dat die wolprys sal regkom, want almal sal altyd klere dra. Matrasse, lakens en dié tipe dinge moet ook gemaak word. Die wolbedryf sal nie tot niet gaan nie.”

Een van die kwessies waarop hy gekonsentreer het, is die impak van die droogte op die gehalte van die wol wat tans gelewer word. “Daar is baie breekwol omdat die skape swaargekry het, maar daar is ook daarvoor ’n mark. Dit is een van die voordele van wol; ’n mens kan ’n nut vir enige sterkte wol kry.”

Uitvoer

Die Suid-Afrikaanse wolbedryf gaan nie net gebuk onder die beperkings ten opsigte van uitvoer na China weens die uitbreking van bek-en-klouseer vroeër vanjaar nie. Uitvoer ly ook weens die handelsoorlog tussen Amerika en China. China is die grootste aankoper van Suid-Afrikaanse wol.

Op die eerste wolveiling vir die 2019-’20-seisoen het boere sowat 39% van die aanbod onttrek nog voordat die veiling begin het. ’n Verdere 18% is onverkoop verklaar.

Die Cape Wools-aanwyser het op 5 September gesluit teen R147,70/kg vir skoonwol, wat 28,3% laer was as op die laaste veiling van die vorige seisoen. Altesaam 8 634 bale is aangebied, waarvan 81,8% verkoop is.

Om kop bo water te hou en seker te maak hulle is gereed vir wanneer daar ’n ommeswaai in die bedryf kom, maak OVK seker dat hy aanhou om die beste diens moontlik te lewer. “Al wat ons kan doen, is om ons boere by te staan met lenings, voer en wat hulle nog nodig het. Ons kan niks doen aan die wolprys nie, dit hang van die kopers af. Al wat ons kan doen, is om daar te wees vir ons boere.”

Duminy sê die feit dat OVK vanjaar al 100 jaar bestaan, stel die maatskappy in staat om nog beter diens aan boere te bied. “Ons verhouding met ons boere en kliënte is ook net soveel sterker. Hulle sien dit ook. Ons maatskappy is in murg en been ’n boeremaatskappy. Ons beloon die boere vir hul lojaliteit deur hulle ’n paar sent ekstra vir elke kilogram wol te gee. Dit is goed om na jou boer om te sien, want hy sorg weer na jou.”

Skaapskeer

Die maatskappy gaan voort om skaapskeerdienste aan sy kliënte te bied en om skaapskeerders op te lei. Gevolglik is skaapskeerdemonstrasies daagliks op Nampo Kaap aangebied.

Benewens die vaardighede wat nodig is om skape te skeer, is daar ook regulasies waaraan voldoen moet word, soos dat die skape gevoer moet word sodra hulle geskeer is. Duminy meen die regulasies is regverdig. “ ’n Mens moet onthou ons werk met mense én ons werk met diere. Die regulasies word nog nie oral nagekom soos dit moet nie, maar dit gaan al baie beter as 10 jaar gelede. Daar is altyd iets wat ’n mens kan verbeter.”

Dit is vir OVK belangrik dat boere hul skape behandel as hulle tydens die skeerproses ’n seerplekkie kry. “Dit is mos nou nie ’n dooie ding wat jy skeer nie. Wondolies en die ander nodige middels moet daar wees.”

Om saggies met die skape te werk, is een van die tegnieke wat die skeerders aangeleer word en die skeerinstrukteurs kyk spesifiek na hoe die skeerders die skape hanteer wanneer hulle geskeer word. “Hulle kry spesifiek punte vir hoeveel dubbelknipsels hulle maak, hoeveel keer hulle die skaap raakskeer, hoe hulle die skaap hanteer en al daardie dinge.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.