Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê in sy verslag oor siektes wat gedurende Oktober in Suid-Afrika aangemeld is (kyk hier na die tabel) die hitte en nat toestande is bevorderlik vir die uitbroei van hierdie eiers. Boere moet oplet na tekens van besmetting met inwendige parasiete soos bloedarmoede, kwakkeel, gewigsverlies en maagwerking.

“Waak ook teen die uitbreking van lewerslakwurm en peervormige maagslakwurm wanneer vee in vleie en ander nat dele van die plaas wei waar groen weiding beskikbaar is. Waterslakke wat die tussengashere vir inwendige parasiete is, is nou volop in daardie dele,” volgens Malan.

Koksidiose vier alweer hoogty en gevalle is in agt van die nege provinsies aangemeld. Jong diere is die vatbaarste en groot verliese het in ses provinsies voorgekom. Daar is ook ’n middel wat vir kriptosporidiose help. Vra ’n veearts vir raad. Pasgebore diere kry beskerming as hulle biesmelk drink. Verder moet boere vir goeie biosekerheid sorg.

Bosluisgetalle neem nou toe en boere moet veral bewus wees van die gevare van bloubosluise, wat Afrika- en Asiatiese rooiwater, anaplasmose en knopvelsiekte veroorsaak. Asiatiese rooiwater het hierdie somer reeds in sewe provinsies voorgekom, terwyl Afrika-rooiwater en anaplasmose in ses provinsies aangemeld is.