Mense vra my dikwels oor voëls wat in die Karoo voorkom, of om hulle te help om van dié voëls op foto’s te identifiseer.

Dit is ’n onbegonne taak om in ’n kort artikel ’n omvattende oorsig oor die voëls van die Karoo te gee, daarom gaan ek liewer op die voëls van die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes konsentreer. Dié park is ’n gerieflike oornagplek vir reisigers, maar voëlkykers sal ’n paar dae wil bly om die hele park met sy diverse habitatte te ondersoek.

Besoekers is gewoonlik gaande oor die groot aantal endemiese voëlspesies op die wandelpaaie (veral op die een rondom die fossieluitstalling) of by die voëlskuiling by die dam naby die ontvangs en restaurant.

By die restaurant kan ’n mens rustig op die stoep sit en wag vir die bokmakierie, bleekvlerkspreeu, bergwagter, rooivlerkstreepkoppie en selfs die bergpatrys om hul opwagting te maak. Die gewone spekvreter, met die geklap van vlerkies wanneer hy tot rus kom, is veral volop en gewild. G’n wonder plaaslike en oorsese voëlkykers geniet dit hier nie.

By die voëlskuiling is die helderkleurige rooivinke en swartkeelvinke in die lente druk besig om neste te bou en sorg vir groot opwinding. Groot getalle Europese swaels slaap in die somer in die riete. Veral laatmiddag bied dit ’n visuele skouspel.

Moet ook nie die kampeerterrein onderskat nie. Die digte plantegroei en ruigtes langs die meestal droë stroom huisves voëlspesies wat ’n mens nie gewoonlik in die Karoo se ooptes sou verwag nie. Wees op die uitkyk vir die bosveldstompstert, geelpensbossanger, rooikopvink en veral die feevlieëvanger.

Inwonende witkruisarende

Ry die Potlekkertjie-sirkelroete in die voormiddag. Dit begin met die Klipspringerpas aan die westekant van die ruskamp en bied asemrowende uitsigte oor die uitgestrekte Karoovlaktes. Die bergagtige omgewing is die tuiste van verskillende spesies wat nie in ander dele van die park voorkom nie. Soek hier vir die klipkoester, bergkanarie, tjeriktik en grondspeg.

By Rooiwalle se uitkykpunt word die broeipaar witkruisarende gereeld vroegoggend gesien waar hulle op die kranse in die sonnetjie bak. Om te sien hoe hulle uiteindelik begin vlieg om te gaan jag, is ’n droom van baie voëlkykers (en waarskynlik ’n nagmerrie vir die plaaslike dassies).

Wees ook op die uitkyk vir die kransvalk en dwergarend, met verskeie windswaelspesies wat veral in die somer die lug patrolleer.

Daarna volg jy die sirkelroete terug na die ruskamp. Dit bied verskeie habitattipes, soos klipperige rante, ruigtes en die ikoniese Karoovlaktes. Kyk mooi in die klipperige rante vir spesies soos die slangverklikker, namakwaduifie en veral korttoonkliplyster.

Die Doornhoek-piekniekplek is in tipiese Karooruigtes geleë en bied ’n welkome rek van die bene en ruskans. Die oop vlakte wat hierna volg, is veral gewild by endemiese spesies soos die karookorhaan, karoospekvreter, kelkiewyn en Ludwigpou.

Nog sirkelroetes vir 4x4-entoesiaste begin aan die westekant van Potlekkertjie. Vra gerus by ontvangs of bespreek voor jou besoek aan die park.

Die Lammertjiesleegte-sirkelroete is oos van die ruskamp in die rigting van Beaufort-Wes en bied veral in die namiddag uitstekende voëlkykgeleenthede. Soek vir die swartpiek, grootvlieëvanger, rooiwangsanger en namakwalangstertjie.

Die Bulkraal-piekniekplek bied die lafenis van ’n swembad en weer eens digte bosse en ruigtes waar die bonthoutkapper, geelbeklyster, priritbosbontrokkie en bosveldtjeriktik gereeld voorkom. Ná goeie reën is hier gewoonlik ’n verskeidenheid watervoëls, waarvan die kopereend ’n goeie voorbeeld is.

Die Karoo Nasionale Park gaan nie net oor voëlkyk nie. Wildbesigtiging is ook uitstekend en jy kan dalk selfs vir Sylvester en vriende – die hervestigde leeus – raakloop!

Die rustige Karoo-atmosfeer, die uitsigte oor berge en vlaktes en die onvergeetlike uitspansel in die aande moet beleef word. Daarom is ’n besoek aan die park ’n móét vir elke ernstige voëlkyker.

NAVRAE: Elaine Odendal (082 455 8402 of mwjasser@mweb.co.za) kan jou help om praatjies oor voëlkyk in die Karoo via WeTransfer te bekom.

’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by e-pos membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou omgewing.