'n Geel blesbokram wat verlede Oktober teen R400 000 in die Suid-Vrystaat gekoop is, het binne drie maande van kleur verander. Dit lyk nou nes 'n gewone blesbok. Volgens die nuwe eienaar, mnr. Maarten Kruger van Palmietfontein, Potchefstroom, is dié bok nou slegs sowat R2 000 werd.

Kruger probeer vasstel hoekom dié kleurverandering gebeur het. Hy sê dit het moontlik te make met die voeding van die betrokke bok, of ‘n kopertekort op die plaas waarvandaan die bok kom. Hy meen egter as dié ram ‘n ware geel ram was, sou hy waarskynlik nie só van kleur verander het nie. Toe die bok in Noordwes aankom, het sy voeding aanmerklik verbeter en toe het sy ware kleur ná drie maande na vore gekom, meen Kruger.

(Foto's hieronder: Die foto links is van die geel blesbok op die verkoper se plaas en regs is die geel blesbok soos dit in Januarie te Potchefstroom gelyk het. Foto's verskaf)

bokke-saamgesmelt

Sekere wildsoorte met skaars kleure is die afgelope tyd teen astronomiese bedrae geld verkoop, wat baie kommentaar ontlok. Is dit normaal dat wild wat na ander omgewings verskuif word, van kleur kan verander? Volgens 'n veearts is dit 'n verskynsel waarmee meer as een koper deesdae te doene kry, en baie geld is ter sprake.

Kruger het voorheen geel blesbok-ooie by 'n verkoper in Bethlehem gekoop, maar dié ooie se kleur hou. “Dit kan wees dat hierdie ram wat ek gekoop het, nie ‘n skoon geel ram was nie, maar bv. ‘n F2-ram.”

Landbou.com het aan Kruger gevra hoekom hy nie die verkoper gevra het om die bok om te ruil nie. Kruger sê hy het deur 'n agent gewerk. Toe hy met die agent oor die kleurverandering gepraat het, is hy aangeraai om die verkoper self te kontak. Hy wou nie met die koper self kontak maak nie, want hy het gedink hulle sou nie “regkom” nie, sê Kruger.

Kruger se penarie is deur die bekende veearts dr. Faffa Malan verduidelik aan dr. Jacques O'Dell, van die fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is 'n wildveearts in die afdeling wildgesondheid van die departement produksiedierestudies. (Sien O’Dell se skrywe heel onder aan die artikel.)

Landbou.com het hieroor ook by 'n prokureur, wat self boer, kers opgesteek. Mnr. Butch van Blerk, direkteur van Bill Tolken Hendrikse Ingelyf in Bellville, sê as bewerings oor kleurveranderings in die wildbedryf iets te make het met menslike hantering, en dit blyk dat die dier se kleur nie eg is nie en die egtheid van die kleur nie deur die verkoper bewys kan word nie, kan dit ‘n bedrieglike wanvoorstelling wees. Die koper kan dan sy geld terugeis.

Van Blerk sê as enige wildboer werklik bereid is om ‘n spel te speel met ongewone kleure, is dit werklik roekeloos.

Kruger sê hy het ook al gewonder of die gebied waar dié bok geloop het, nie van nature laag is aan koper (Cu) nie. “Daar is nogal baie geel bokke wat uit daardie geweste kom. As dit die geval was, dan kan 'n mens verstaan hoekom die bok daar heeltyd geel was. Weer eens glo ek dat ‘n boer wat sy hele lewe in dié omgewing woon, van só 'n situasie bewus moes wees.

“Ek dink die probleem in die wildbedryf is dat daar tans geen beheer, kontrole en standaarde is nie. Dit is die rede waarom soveel agente en spekulante dit reggekry het om in te klim en geld te maak. As jy met van die agente praat, ken hulle nie eers die bokke wat hulle verkoop nie.”

Wildkopers moet aangeraai word om wild slegs te koop by gevestigde boere. Agente en spekulante se verwysings moet aangevra word. Het die wildbedryf byvoorbeeld 'n databasis van geakkrediteerde agente soos in die eiendomsbedryf? vra Kruger.

Die enigste oplossing is om die moederskap en vaderskap van 'n bok te kan bewys.

Wat sê die verkoper van die bok?

Die verkoper van die bok sê Kruger het twee of drie weke vóór die transaksie twee bekende wildboere gevra om na die spesifieke bok te gaan kyk. Kruger was tevrede met hul opinies oor die geel blesbokram.

Met Kruger se besoek in Oktober het 'n veearts die bok waarin Kruger belang gestel het, met ‘n verdowingspyl geskiet. Kruger kon die bok toe van nader bekyk, saam met die veearts. "Kruger het die keuse gehad om die bok te weier as hy nie tevrede was nie. Niemand het hom gedwing om die bok te laai nie. Die beginsel in die wildbedryf is: As die verdoofde bok op die koper se lorrie gelaai word en wakker gemaak word, gaan eienaarskap oor na die koper. Dan is die transaksie afgehandel.”

Die verkoper sê hy het het Kruger op 10 Desember 2014 gebel om te verneem of hy tevrede was, en Kruger het instemmend geantwoord.

Op die vraag van Landbou.com oor die prys van R400 000 vir die geel blesbok, was die verkoper se antwoord: “Geel blesbokke verkoop vir tot R900 000 stuk. Dit is dus moontlik dat hy dalk vir meer as R400 000 op 'n veiling verkoop sou kon word.”

Die verkoper sê ook dat DNS-toetse nog nie bestaan om tussen gewone blesbokke, geel blesbokke en saalrug blesbokke te onderskei nie. Daar word bloot op sig onderskei en hulle word daarvolgens geprys.

Aangaande die kleurverandering sê die verkoper dat hy geen beheer oor voeding, klimaat en hormoonveranderings het nie. “Is dit nie maar dieselfde as wanneer ek 'n nuwe swartwitpensbul koop en ses maande later begin een horing skeef groei nie? Ek kan mos nie die bok daaroor gaan teruggee nie. Die risiko het myne geword toe ek die bok gekoop het,” sê hy.

Wil ram deur seisoen monitor:

Dr. Johan Steyl van die fakulteit van veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria is ook deur Kruger oor die geval genader. Steyl skryf: “Ek het na gelang van jou geval dit met verskeie mense bespreek, en die konsensus is dat seisoen- en hormonale vlak-wisseling waarskynlik dié verskynsel tot gevolg het. Dit kom ook baie algemeen voor onder blesbokramme en baie mense begin dieselfde ‘probleem’ aanmeld. Jy gaan waarskynlik 'n baie dramatiese verandering sien in die winter. Ek vermoed dit is dalk 'n fisiologiese verskynsel en nie patologies nie, maar om sekerheid te hê, moet ons die bok deur 'n volle seisoen volg.”

 * Wildlife Ranching of South Africa (WRSA)

Nadat dié artikel en die foto’s aan dr. Peter Oberem, voorsitter van Wildlife Ranching of South Africa (WRSA), voorgelê is, was sy kommentaar: “Dit is 'n hartseer dag as gevalle soos hierdie die briljante bedryf waarin ons is, skade aanrig. Ek kan nie kant kies nie, want ek het nie al die feite voor my nie en ek het ook nie al twee partye se kante van die gebeure aangehoor nie.

“Maar, indien 'n hof sou bevind dat enige lid van WRSA onwettig opgetree het, sal WRSA sanksies teen daardie lid instel en so 'n lid se lidmaatskap kanselleer. Na my mening kan 'n klag van bedrog gelê word, gesien die waarde van die transaksie. Die polisie sal dan verplig wees om te vervolg as die aanklaer voel daar is genoeg bewyse om 'n skuldigbevinding te kry.”

Wat veroorsaak dat  'n geel blesbok in 'n gewone blesbok verander?

Geel blesbokke se gewildheid en waarde het in die laaste paar jaar ongelooflik gegroei. Desondanks weet ons bitter min van hulle genetiese mutasie af, sê dr. Jacques O'Dell van die fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is 'n wildveearts in die afdeling wildgesondheid van die departement produksiedierestudies.

O’Dell se mening is gevra oor die blesbok-geval. Hy sê volgens telers is die tipiese geel blesbok se boude, sye en skouers gras-geel en heelwat ligter as in ‘n gewone blesbok s’n, waar dit donkerbruin is. ’n Geel blesbok se rug (saal) en streep bo die pens kan ook effe ligter, maar steeds bruin, wees. Die twee bokke lyk verder baie dieselfde. (Sien sy beskrywing op foto hieronder.)

geel-blesbok.jpg-o'dell.jpg--600

"Die kleur van die stert is een kenmerk waaroor alle telers nie saamstem nie. Sommige meen ‘n wit en geel stert onderskei ‘n ware geel blesbok van ’n gewone blesbok wat swart in die stert het. Ander vermoed geel bokke met swart sterte is sogenaamde “splits”.

"Die saalrug-blesbok lyk baie soos die geel blesbok, maar die kleure het meer kontras; donker bruin saal en streep. Boude, sye en skouers wit soos die bles. Die feit dat die bok baie soos die geel blesbok lyk en dat daar baie kleurskakerings van die geel bok bestaan, dui aan dat die betrokke gene ingewikkeld is. Die geen wat ‘n swart rooibok bepaal, is egter simpel resessief. Dit beteken ‘n enkele geen is verantwoordelik vir die mutasie en die bok sal niks anders as net rooi of swart wees nie.

"In die geval van die geel geen (of eintlik saalrug) by blesbokke is daar heelwaarskynlik 'n aantal gene betrokke. As die betrokke gene afwesig is in 'n bok sal hy normaal vertoon. Indien ‘n bok dus net één van die betrokke gene het, sal hy amper soos die tipiese geel blesbok lyk, maar met ‘n swart stert. Meer as een mutasie lei dan tot 'n tipiese geel blesbok. Indien ál die gene betrokke is, en hulle in die korrekte dominansie is, dan sal die eindresultaat 'n saalrug blesbok wees.

"Daar bestaan ook die moontlikheid dat ál drie die genoemde kleurvariante geheel en al onverwant is en dat die geen-mutasies mekaar nie kan beinvloed nie.

"Niemand weet dit egter nie en dit kan slegs bewys word indien genetiese toetse ontwikkel word. Daar is planne om dié gene te identifiseer, maar dit sal nie binnekort beskikbaar wees nie. Die aandag is tans op die saalrug-rooibok, die goue gemsbok en die goue wildebees."

Wat veroorsaak dit?

O’Dell sê as ‘n blesbok weens genetiese mutasie geel is, is dit onmoontlik dat die bok kan verkleur en soos ’n gewone blesbok kan lyk. Dit is wel moontlik vir ‘n bok se hare om te verkleur, veral as die ligter kleur ontstaan weens onderliggende probleme, soos voedingstekorte of parasiete, of selfs weens omgewingsfaktore, soos habitat en seisoen.

"’n Bok se kleur verskil minimaal van seisoen tot seisoen. Wild (en vee) se pels word gedurende koue wintermaande langer en dikker. Soms is hierdie wollerige pels ook ligter as die somerpels. Wildsbokke se pels kan dus donkerder en blinker wees in die somer.

"Habitat speel ’n klein rol. Weiding kan haarkleur beïnvloed deurdat optimale weiding die bok se beste kleure sal uitbring. Swak veld wat oorbewei is, met baie parasiete, sal die kleur beïnvloed. Inwendige parasiete ding met ’n bok mee om voedingstowwe en spoorelemente. Bokke met hoë ladings parasiete kan ’n verlaagde vlak van die spoorelement koper hê. Koper speel 'n redelike groot rol in haarkleur. Diere met 'n kopertekort is gewoonlik vaal en lig teenoor ‘n gesonde dier.

"As al die betrokke faktore tegelykertyd 'n rol speel, kan ’n bok se kleur drasties verander. ‘n Bok met baie inwendige parasiete wat aan die einde van die winter in ‘n koue gebied op swak, oorbeweide veld gevang is, kan dalk baie van kleur verander as dit ontwurm, met spoorelemente ingespuit en na optimale veld in ‘n warmer area verskuif word. Die bok sal donkerder word en oor die algemeen 'n blinker, gesonder voorkoms hê as vantevore," skryf O'Dell ten slotte.