RusMoloko, ’n Russiese melkplaas naby Moskou, meen hy het ’n unieke manier gevind om deur virtuele realiteit dié doelwit te bereik, berig Interesting Engineering.

Luidens ’n artikel op dié webwerf kan ’n mens dink jy is op ’n rolprentstel as jy die plaas besoek, want die koeie loop rond met virtuele-realiteitsbrille wat spesiaal vir hulle gemaak is. Veeartse was by die ontwerp daarvan betrokke en die brille se vorm is vir die vorm van ’n koei se kop aangepas.

Die brille se ontwerp kombineer boere se ondervinding in die melkbedryf met tegnologie om melkproduksie te verbeter deur nie net na die koeie se liggaamlike welstand om te sien nie, maar ook hul gemoedstoestand.

Navorsers het bevind as koeie ontspanne is, lewer hulle meer melk van ’n beter gehalte. Op Amerikaanse plase het boere roterende borsels in die stalle geïnstalleer om die koeie te masseer. Op plase in Europa word klassieke musiek in die koeistalle gespeel.

RusMoloko gebruik die virtuele-realiteitsbrille om koeie te laat dink dat hulle in groen weivelde is. Navorsers het bevind dat die koeie minder angstig word as hulle die brille dra en dat die algemene gemoedstoestand van die trop verbeter. Verdere navorsing moet gedoen word om vas te stel of die brille die koeie se melkproduksie verbeter.