Reënvalsyfers wys Steenbokpan beleef sy droogste somer in 55 jaar, en die afgelope drie jaar was droër as gewoonlik. Om twee jaar na mekaar finaliste in Landbouweekblad en SA Stamboek se Elite-platinumkoeikompetisie op te lewer, getuig van uitsonderlike teelmateriaal en puik kuddebestuur.

Mnr. Hardus Steenkamp van die plaas Doornlaagte by Steenbokpan in Limpopo is ’n man vir syfers en data. Sélfs as kommersiële boer het hy jare gelede prestasietoetsing in sy kudde toegepas. Dit was hoofsaaklik Brahman-tipe beeste, en omdat hy van mnr. Tom Lasater se filosofie hou, het hy Beefmasterbulle gebruik om sy kudde te verbeter. Om later as Beefmasterteler te registreer, was dus vir hom ’n doodnatuurlike stap.

Lasater se seleksiekriteria vir temperament, bouvorm, vrugbaarheid, gewig, gehard- heid en melkproduksie vorm steeds die grond- slag vir Steenkamp se teeldoelwitte. Hy sê dat hy deurentyd daarop konsentreer om die optimale balans tussen hierdie eien- skappe te handhaaf. “As ’n mens te veel vir melk selekteer, boet jy op vrugbaarheid en tussenkalfperiode in, en as jy te veel vir vleis selekteer, kan jy weer elders inboet.”

Hy het sy Beefmasterkudde in 1990 geregistreer. Die eerste bulle is by wyle mnr. Tony Brink aangekoop. 

Mnr. Hardus en me. Venessa Steenkamp.

PLAASLIKE TEELMATERIAAL

Steenkamp het aanvanklik op ’n koei se ouderdom met haar eerste kalf se geboorte, tussen- kalfperiode en speenverhouding gekonsentreer, en sy beeste daarvolgens geselekteer. Hy het sy aanvanklike kudde versterk deur diere van WO Beefmasters, Oktavia, Bos Blanco en Rhenostervallei-Beefmasters aan te koop.

’n Selektiewe KI-program word jaarliks op dertig van die beste koeie gedoen. In die verlede het hy ingevoerde saad gebruik, maar tans insemineer hy met top-Suid-Afrikaanse Beefmasterbulle wat sy teeldoelwitte sal bevorder. Steenkamp sê hy verkies plaaslike teelmateriaal bo ingevoerde saad.

Hy handhaaf twee dektye – ’n somerdektyd van 15 Desember tot 15 Maart, en ’n korter winterdektyd van 15 Augustus tot einde September. Vanjaar het hy sy bulle egter langer by die vroulike diere gehou in ’n poging om die uitwerking van die droogte te verminder.

Sy verse word op 14 maande vir die eerste keer gedek, en kalf op gemiddeld 26 maande. Ná speen laat groei hy sy bulkalwers uit en onderwerp hulle aan ’n breedvoerige fase D-toets. Die swakker bulle word dan uitgeskot. Steenkamp behou die bestes en bemark hulle later. Hy bied een maal per jaar ’n produksieveiling saam met Rhenostervallei aan, en neem ook deel aan die jaarlikse Limpopo- Beefmasterveiling. Voor die veiling word sy bulle op die veld afgerond.

Elitekoei-inligting

WENNER VAN VERSKEIE PRYSE

Vanjaar se Beefmaster-elitekoei, HS080134, is deur Steenkamp self geteel. Sy het op 23 maande die eerste keer gekalf. Dit was ’n tweeling. Omdat sy ’n vers was, is een van die kalfies hans grootgemaak. Sy het ’n tussenkalfperiode van 364 dae. Sy het 8 kalwers gespeen met ’n gemiddelde speenindeks van 109. In 2017 is sy genomies getoets, met ’n koeiwaarde-indeks van 142.

Hardus Steenkamp-Beefmasters, soos sy kudde bekend staan, was van 2006 tot 2011 ’n kuddefinalis in die Landbounavorsingsraad se kuddekompetisie in Limpopo. Die kudde geniet reeds sedert 2014 goudstatus by SA Stamboek. Vanjaar is die kudde ’n finalis in die Elite-kudde van die Jaar-kompetisie. Die plaas Doornlaagte is sedert 1919 in die Steenkamp-familie se besit. Hulle vier vanjaar die 100ste bestaansjaar van die familieboerdery.

Navrae: Mnr. Hardus Steenkamp, e-pos: hardus@phumba.co.za; 083 653 5610.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.