Die polisie het ook ’n verbod geplaas op nog ’n groot weeklikse veiling, dié van BKB op Frankfort, wat Donderdag sou plaasvind.

Twee weeklikse veilings, dié van André Kock en Seun, en Noord-Kaap Lewende Hawe, is Dinsdag deur die polisie onderbreek nadat dit al aan die gang was en die produsente moes hul diere verwyder. ’n Veiling van Vleissentraal op Bethlehem en een van Tobie Myburgh-afslaers in Bloemfontein is ook stopgesit.

Die groot weeklikse veiling van Vleissentraal op Frankfort is vandag deur die polisie verbied, wat tot groot konsternasie onder deelnemers en personeel gelei het.

Mnr. Allan Sinclair, van Vleissentraal in Bloemfontein, het nie vandag met sy veiling in die stad voortgegaan nie. Hy volg ’n streng stelsel waarvolgens aanwesiges by die veiling nie die voorgeskrewe perk van 50 oorskry nie.

Bedryfsleiers wag nou vir me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, om die verwarring op te klaar.

Tans tree sommige wetstoepassers ingevolge die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002) in die Vrystaat op waarvolgens alle openbare samekoms van mense verbied word. In ander provinsies word veilings toegelaat ingevolge Didiza se verklaring van die aanbied van lewendehawe-veilings as ’n noodsaaklike diens.

Een van die veilings wat Dinsdag ongestoord afgehandel is, was in Kimberley waar mnr. Willie Meyer, uitvoerende bestuurder van GWK se veilingsafdeling, onbewus was van verdere beperkings op die hou van veilings.

Dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder vir vee, eiendomme en afslaers by BKB, sê hy hoop die minister kan spoedig duidelikheid gee oor veilings sodat sy veiling môre op Frankfort kan voortgaan.

Minister moet antwoord

Intussen het die landbouprodukte-agenteraad (Apac) met die samewerking van Agri SA ’n beroep op Didiza gedoen om die onsekerheid oor verskeie landboukwessies uit die weg te ruim.

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, het die landwye aanbied van lewendehaweveilings as ’n kritieke aangeleentheid uitgesonder, aangesien die verskillende interpretasies van die regulasies die rooivleis-waardeketting versteur.

Ingevolge Agri SA se voorstel moet die bywoning van landbouveilings tot 50 mense beperk word, met inbegrip van die nodige higiënemaatreëls en geriewe.

Ander aangeleenthede waaroor duidelikheid verkry moet word, hou verband met vervoer tussen distrikte en provinsies, die heropening van kitskosondernemings, die hervatting van die veselbedrywe, die vervoer van uitvoerwyn na die hawens en die verkoop van tabakprodukte.

Mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het ’n beroep op die minister se bedryfstaakspan gedoen om die aangeleentheid spoedig op te klaar.

Bedryfsleiers soos mnr. Anton Vos, besturende direkteur van Vleissentraal, het die onsekerheid oor die vertolking van die risikobeperkings betreur. Hy het vroeër aangedui dat sy maatskappy met die aanbied van veilings in die grendeltydperk sal voortgaan totdat hy amptelik deur Apac, die minister of pres. Cyril Ramaphosa van die teendeel ingelig word. Hy het dit beklemtoon dat alle voorkomingsmaatreëls moontlik gevolg sal word om die verspreiding van die virus te beperk.