Vraag

Ek is op soek na ’n voerkraalmengsel vir lammers. Ek het sojareste en droë sitrusmeel beskikbaar. Die lammers weeg 33 kg op vier maande. Wat moet ek bysit of watter mengsel kan ek gebruik om hulle in twee maande tot 45 kg te laat gewig aansit?

Raad

Gedroogde sitruspulp word beskou as ’n energiekonsentraat wat graan deels in herkouerrantsoene kan vervang. Insluitings van 10-20% word in voerkraalrantsoene vir lammers aanbeveel. Hoër insluitingsvlakke kan groei weens onder meer ’n mineraalwanbalans beperk.

Sojaboonhooi of -reste bevat sowat 10% ruproteïen, na gelang van die hoeveelheid peule wat ná die oes agterbly. Dit word gewoonlik teen 10-15% in ’n afrondingrantsoen ingesluit, waar lusern gewoonlik teen tot 20% ingesluit word. Die rede hiervoor is die hoër ruveselinhoud van sojaboonhooi teenoor dié van lusernhooi. Onthou om ’n natuurlike proteïenbron in te sluit wanneer sojaboonhooi pleks van lusernhooi gebruik word — dit vergoed vir die laer ruproteïen.

Hierdie mengsel sal goeie lammergroei- resultate in die voerkraalomgewing lewer:

  • 200 kg Voermol SS200 (reg.nr. V8592, Wet 36 van 1947)
  • 50 kg Voermol Procon 33 (reg.nr. V12701)
  • 570 kg gemaalde mielies
  • 150 kg gedroogde sitruspulp
  • 170 kg gemaalde sojaboonhooi (10 mm)

Voer ad libitum. Onthou om lammers eers vir 10-14 dae aan te pas deur bykomende hooibale eenkant saam te voer.