Of jy dit wil glo of nie, die langtermynsukses van ’n kommersiële beesboerdery gaan afhang van die gewilligheid om te verander. Ons almal het die vermoë om te verander, maar of ons die wil het, is ’n perd van ’n ander kleur.

Dit is ongelukkig waar dat sekere individue eers sal verander as hulle nie ’n ander keuse het nie. Beesvleispryse gaan bly wipplank ry, terwyl die koste van insette geleidelik bly styg. In die afgelope vyftig jaar het insette drasties meer gestyg as die vleisprys, en ek kan nie sien dat dit gaan verander nie.

Mettertyd gaan sekere boere net te min inkomste genereer om hul uitgawes te dek. Boonop is die klimaat aan die verander. Beesboere moet eenvoudig die kalf- en dektye aanskuif, anders gaan die begroting nie klop nie. Ek weet ek skets ’n donker prentjie, maar dalk het dit tyd geword dat ons mekaar vierkant in die oë kyk en die kaalkopwaarheid praat.

Hoe lank nog gaan ons net konsentreer op produksie per dier en die idee van wins per hektaar ignoreer? Hoe lank gaan ons nog die pas markeer voor ons bewaringslandbou (of oorlewingslandbou) laat vaar en herlewingslandbou ernstig oorweeg en begin beoefen?

Stoetboere kan nie meer bulle teen R30 000 verskaf nie en kommersiële boere wil nie méér as dit betaal nie. Dit beteken die stoetboer moet sy bulle goedkoper markgereed kry en die kommersiële boer moet bereid wees om ten minste die waarde van ses speenkalwers vir ’n bul te betaal. As jy sê die waarde van ses speenkalwers is te veel, moet jy na jou eie onderneming kyk om te sien of jy op die regte pad is.

By die stoetboer is voerkoste dalk die grootste vyand, en vet bulle is die grootste klagte vanaf die kommersiële boer. Wat ’n teenstrydigheid!

Kan ons nie by mekaar uitkom nie? Waar lê die probleem? Is bulle te duur of wil kommersiële boere nie na waarde vir bulle betaal nie? Die regte bul lewer mos ’n gunstige bydrae in jou kudde. Waarom sal jy nie daarvoor wil betaal nie?

Ek weet ek veralgemeen ’n bietjie, want daar is baie kommersiële boere wat bereid is om goeie pryse vir bulle te betaal omdat hulle die waarde besef en die voordele in hul kuddes waarneem.

Boer saam met natuur

Hoe lank kan jy die gedagte om saam met die natuur te boer, ignoreer? Hoe lank nog gaan jy toelaat dat jou koeie “buiteseisoen” kalf net omdat jy ’n reuse-, onwinsgewende kalf in Mei wil speen? As jy die koste van daardie kalf aftrek, wat is die wins? Ons moet die voordele van die natuur maksimaal gebruik ter wille van ons eie oorlewing. Hoekom skop boere so hierteen? Is dit net omdat ons nie buite die kassie wil dink nie? Hoe lank wil jy nog die omgewing teen ’n verlies kunsmatig aan die gang hou om vleis teen ’n verlies te produseer? Ons moet eerder diere produseer wat by die omgewing pas as om die omgewing te wil verander.

Dié diere is in alle rasse beskikbaar. Identifiseer bloot die telers en ondersteun hulle. Sulke diere lyk dalk effens anders as waaraan ons gewoond is – minder indrukwekkend wanneer jy hulle sien. Maar los hulle op die veld, en jy ervaar die voordele. Wie gaan dit waag om hierdie skuif te maak, of gaan jy wag totdat jy gedwing word? Hoe lank nog voordat ons besef daar is diere wat beter vaar op natuurlike weiding en dat hul nageslag tot hoër winsgewendheid kan bydra?

Dit is die soort dier wat dalk nie so goed presteer as produksie per diere die maatstaf is nie, maar wanneer jy wins per hektaar meet, kom hulle tot hul reg. Dís die diere wat boere op hulle plase gaan hou en wat die nodigheid van te veel insetkoste verminder. Verantwoordelikheid Hoe lank nog voordat meer boere ’n poging aanwend om ’n nuwe weidingstrategie toe te pas wat hulle gaan help om meer beeste volhoubaar te kan aanhou? Hierdeur kan jy jou inkomste verdubbel met ’n minimale styging in insetkoste.

Met die regte bestuur kan koolstof in die grond vasgelê en meer suurstof vrygestel word. Hierdeur kan die waterhouvermoë en indringingstempo drasties verhoog word. Sodoende word elke druppel water wat die Liewe Vader ons skenk, voluit benut. Wat belading betref, is drie maal die norm dalk moeilik, maar dubbel die norm is baie moontlik.

Laastens, hoe lank nog voordat ons as boere verantwoordelikheid gaan aanvaar vir die gesondheid van ons kuddes? Kan jy dit nog enigsins oorweeg om nie vir besmetlike misgeboorte en tuberkulose in te ent nie? Hoe kry jy geslaap indien jy nie inent nie? Jy stel jou buurman se kudde in gevaar.

Die wêreld sit met afwagting en kyk wat boere gaan doen om die voedselmandjie volhoubaar daar te stel. Wat ’n lekker uitdaging en voorreg om mense se mae met heilsaamheid vol te maak. Dalk kry boere nie altyd die erkenning vir wat hulle doen nie, maar hou aan en druk deur.

Kom ons laat die gesegde “ ’n boer maak ’n plan” uit sy nate bars. Kom ons wys die wêreld ons het hoop, want ’n boer sonder hoop sukkel. Dit sal weer reën, die veld sal herstel, en die pryse vir diere sal verbeter.

Intussen moet jy seker maak jy produseer ’n kilogram vleis goedkoper as jou buurman. Hulle wat aanpas en dit regkry, sal tot die einde hier wees.

Daar ís maniere, ondersoek dit net en – die belangrikste – pas dit doeltreffend toe.


Mnr. Gerrit van Zyl is ’n sake- man en besit die bekroonde Hanzyl-Bonsmarastoetery buite Dewetsdorp.

Kommentaar: E-pos: gerrit@mabitzo.co.za

Cowboy-logika Jy kan ’n man oplei, maar jy kan hom nie laat dink nie.