Die tweejarige Platdrif Legacy die tweede (AJS 180002) van mnr. Nollie Stofberg van die Sussexstoetery Platdrift, Worcester, en sy seuns Pieter en Nollie jr. is deur mnr. Liege Lamb van die stoetery Bull’s Run op die plaas Donnington naby Himeville in KwaZulu-Natal gekoop.

Legacy is die seun van HV Kimberley die 12de, wat in 2018 die raskampioen en wenner van die goue beker op die nasionale Sussex-kampioenskap in Bloemfontein was. Stofberg het Kimberley vir ’n rekordprys van R200 000 vir ’n Sussex op die nasionale veiling in 2016 aangeskaf. Nog ’n seun van Kimberley is teen R100 000, die tweede hoogste prys van die veiling, aan mnr. Nico Bouwer van die Sussexstoetery Witkwas by Delareyville verkoop. Die ses bulle van die Stofbergs is vir gemiddeld R96 250 verkoop. Die veilinggemiddelde vir al die bulle was R62 675.

Altesaam 30 saadstrooitjies van Kimberley is teen R1 500 elk aan drie telers verkoop. Hulle is mnre. De Villiers Lamprecht (Santori-Sussex, Kuruman), Dave McCall (Skietlaagte, Viljoenskroon) en Naas Steyn (Ermelo). Die saad van een van die Stofbergs se stoetbulle, Bonaparte die 2de, het R500/strooitjie (15 strooitjies) behaal.

Die prys vir een dragtige stoetkoei was R20 000, vier stoetkoeie met ’n verskalf elk gemiddeld R25 250 en twee dragtige stoetverse teen R21 000 elk.

Vleissentraal Bloemfontein het die veiling aangebied en mnr. Ian Grobbelaar was die afslaer.