Vraag

My Rottweiler van vier maande is dood aan katgriep. As ek nou weer ’n kleintjie aanskaf, wat is die moontlikheid dat hy dit ook kan kry? Moet die erf ontsmet word of moet ek wag dat die virus verdwyn?

Raad

Parvovirus is ongelooflik stabiel en weerstandbiedend. Die virus kan vir langer as vyf maande op voorwerpe, soos klere of vloere van hokke, oorleef. Die meeste ontsmettingsmiddels is nie doeltreffend teen die katgriepvirus nie. Lesers kan F10 SC (reg.nr. G3070, Wet 36 van 1947, Health and Hygiene [Edms.] Bpk.) aanskaf om die omgewing te ontsmet. Volg die verdunningsaanwysings en kontaktyd vir parvovirus.

Die belangrikste is dat lesers nie ’n nuwe hondjie moet kry voor die hondjie ingeënt is teen katgriep nie. Rottweilers is vatbaarder vir die katgriepvirus as ander honderasse. Ek stel dus voor dat indien die leser weer ’n Rottweiler wil aanskaf, hy/sy verseker dat die hondjie eers twee weke nadat dit op vier, ses en nege weke ingeënt is, tuis gebring word (dus op 11 weke).

Let asseblief daarop dat ander honderasse nie op vier weke ouderdom teen katgriep ingeënt word nie. Dit is ’n bykomende inenting wat lesers kan versoek van ’n veearts, wat spesiaal aangedui is vir honderasse wat vatbaarder is vir die katgriepvirus.

Indien die leser ’n ander honderas as ’n Rottweiler wil kry, stel ek voor dat hy/sy eers die hondjie tuis bring twee weke nadat die hondjie op 6 en 9 weke ingeënt is – dus steeds eers op 11 weke oud. 

Bron: Ettinger, S.J. en Feldman, E.C. 2000. Textbook of Veterinary Internal Medicine 5th Edition. W.B. Saunders Company, VSA