Minstens vyf beesrasse het reeds bevestig dat hulle aan die Afrika-lewendehawe-ekspo en -skou gaan deelneem terwyl ander dit nog oorweeg. Uitstallings van groot- en kleinvee is ook op die program. Die skou is in 2019 vir die eerste keer gehou en het verlede jaar ook plaasgevind toe die beperkings op byeenkomste en reise weens die covid-19-pandemie betyds verslap is. Die reëlingskomitee vertrou dat die virus se invloed gedurende die lente sal begin taan sodat die skou gehou kan word.

Een van die hoogtepunte is die nasionale Brahman-veiling wat vir 11 September beoog word. Dit word deur ’n groot Brahman-skou vir haltermak- en nie-haltermakdiere voorafgegaan. Ander beesrasse wat beoordeel gaan word, is Simbra, Limousin, Santa Gertrudis en Pinzyl. Die Simbra-lenteveiling word op 9 September aangebied.

Die diere wat ingeskryf word, kan van 2 tot 6 September by die skou afgelaai word. Genoeg stalle onderdak is vir groot- en kleinvee beskikbaar. Die beoordeling geskied van 7 tot 10 September. Die skou word met ’n interrasskou op 10 September en ’n dinee afgesluit waartydens die opperste manlike en vroulike diere deur Landbouweekblad vereer sal word.

Navrae: Stefan Coetzee (beeste), 083 384 3675; Jan Mostert (kleinvee), 083 306 8408; Carla de Kock (ander navrae), 082 447 1650; e-pos: info@bkbale.co.za.