Die departement se direkteur-generaal verantwoordelik vir landbou, mnr. Mike Mlengana, het op Woensdag 23 April boere te hulp probeer snel deur ’n brief aan wetstoepassers te stuur om hulle in te lig dat veilings gedurende die inperkingstydperk toelaatbaar is. Die polisie het verskeie veilings in die Vrystaat stopgesit en boere selfs met inhegtenisnemings gedreig ondanks Didiza se aankondiging met die aanvang van die staat van inperking dat veilings en die verkoop van ander landboukommoditeite onder baie streng voorwaardes mag voortgaan. Sy het toe gesê nie meer as 100 mense mag ’n veiling bywoon nie.

Didiza het op Woensdag 23 April in ’n verklaring gesê dat sy heelwat oproepe en briewe rakende probleme met veilings van die landbougemeenskap ontvang het.

Sy het gesê dat sy die kwessie oor samekomste by veilings met dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, asook mnr. Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, opgeneem het. Daar is ooreengekom dat riglyne in ooreenstemming met die nodige gesondheidstandaarde opgestel moet word.

Polisie

Mnr. Brent McNamara, bedryfsbestuurder van Agri SA Oos-Kaap, het gesê die polisie het in opdrag van genl.maj. André Swart, adjunkpolisiekommissaris in die Oos-Kaap, aangedui dat die brief van Mlengana volgens hul regsadvies nie ’n wettige dokument is nie en dus nie aanvaar sal word as goedkeuring dat veeveilings toelaatbaar is nie.

Dieselfde geld veilings van wol en bokhaar.

Die polisie meen totdat regulasies in die Staatskoerant afgekondig is, sal veilings as onwettig geag word.

Me. Annette Steyn, DA-skaduminister vir landbou, het gesê benewens probleme met die hou van veilings, het boere ook probleme met permitte by haar aangemeld. Daar is gevalle waar by blokkades vir boere gesê is hulle het die verkeerde permit en dat hulle net toegelaat sal word om verder te ry as hulle tot R3 000 betaal.

Sy het gesê om seker te maak dat wetstoepassers nie die permit afkeer nie, moet boere seker maak dat die regte sperdatum op permitte is. Dit moet tans tot 30 April 2020 wees. As die inperking verleng word, moet die datum weer aangepas word.