Ondanks die sluiting van China se grense vir Suid-Afrikaanse dierevesel ná die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo vroeër vanjaar het dié veiling tog vir ’n paar rekords gesorg.

Mnr. Pierre van der Vyver, bestuurder van bokhaar by OVK, sê Angoraboere word deur ernstige probleme soos die droogte en die uitvoerverbod in die gesig gestaar. “Dit spreek boekdele dat die bedryf in hierdie omstandighede steeds ’n rekordveiling kan hou.”

Hy sê dit was nie net die grootste veiling vir die seisoen wat gewig betref nie, maar ook die een met die beste gehalte bokhaar.

Mnre. Jerry en Wayne Pienaar van Bokvlei Farming naby Beaufort-Wes het ’n wêreldrekordprys vir grootbokhaar behaal teen R420/kg. Hulle het ook hoogste gemiddelde vir hul totale skeersel behaal teen R416,84/kg.

Die Pienaars het aan Van der Vyver gesê die hoë pryse is te danke aan die droogte wat vir fyner haar gesorg het. “Die beter pryse verlig darem die finansiële pyn wat die droogte veroorsaak, want ons moet in hierdie stadium alle kos vir ons diere aankoop.”

Die huidige wêreldrekordprys van R490/kg vir jongbokhaar is deur mnr. Paul Broeksma van Teerputs Farming naby Aberdeen geëwenaar. ’n Seisoensrekordprys van R621/kg is betaal vir somerbokkiehaar van mnr. Paul Webber van Grahamstad.

Drie veilings

Daar is nog drie veilings oor vir die seisoen wat tot 18 Junie strek, maar volgens Van der Vyver is die grootste deel van die bokhaarskeersel reeds verkoop.

Van der Vyver sê die bokhaarbedryf is tans beter af as die wolbedryf ten opsigte van die uitvoerverbod na China.

China en Italië wissel mekaar af as die grootste uitvoermark vir Suid-Afrikaanse bokhaar. China het verlede jaar die meeste bokhaar ingevoer, terwyl Italië vanjaar die grootste bestemming vir Suid-Afrikaanse bokhaar is.

In die jongste bokhaarmarkverslag van OVK skryf Van der Vyver die verbod van China en die bemarkingschaos in Lesotho is die grootste bedreigings vir die Suid-Afrikaanse bokhaarbedryf. Die nuut saamgestelde standaarde vir volhoubare bokhaarboerdery, wat wêreldwyd bekend gestel is en baie gunstige reaksie kry, is voordelig vir die bedryf.

Die volgende veiling word op 7 Mei aangebied en sal baie kleiner wees met soortgelyke gehalte. Na verwagting sal dieselfde prysneigings gevolg word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.