Onlangse navorsing onder leiding van dr. Samson Chimphango van die Universiteit van Kaapstad toon dat vier Aspalathus-spesies hoë vlakke van ruproteïen en neutraalbestande vesel bevat, en baie verteerbaar is.

Hierdie drie faktore word gebruik om die waarde van veevoer vir diere-onderhoud, groei en reproduksie te beoordeel. Die plante groei in veld wat soms bewei word.

Aangeplante lusern is egter tans die belangrikste weidingsgewas in dié gebied, en is dus as kontrole in die navorsingstudie gebruik.

Chimphango en medewerkers van die Universiteit van Wes-Kaapland, die Overberg-renosterveldbewaringstrust en Murdoch-universiteit in Wes-Australië het ’n artikel hieroor geskryf vir die vaktydskrif Journal of Arid Environments.

Hulle sê hoewel die ruproteïen van die peulplante net ’n derde van lusern s’n is, is die gemiddelde ruproteïenvlakke in dié spesies groter is as die minimum behoefte van skape.

Die peulplantspesie Aspalathus nigra. FOTO: ODETTE CURTIS-SCOTT

Die peulplantspesies Aspalathus hispida, Aspalathus angustifolia, Aspalathus nigra en Aspalathus submissa bevat ook voldoende vlakke van makro-elemente, soos kalium, kalsium, magnesium en natrium.

Alle spesies toon ’n tekort aan fosfor, sink en, in sommige gevalle, koper.

Dit beteken dat diere wat dit vreet, aanvullings van daardie elemente sal moet kry. Die navorsers beveel aan dat die peulplantspesies vir in vivo-verteerbaarheid (in skape se liggaam) geëvalueer word.

Weneens moet die produksie van saad en biomassa deur die plante ondersoek word om hul potensiaal te bepaal om as kommersiële voergewasse ontwikkel of by voervloeiprogramme ingesluit te word.

Die navorsers noem in die artikel, “Native legume species as potential fodder crops in the Mediterranean renosterveld shrubland, South Africa”, dat hulle op die peulplantspesies besluit het nadat hulle skape in die veld dopgehou en boere in die omgewing gevra het watter peulplantspesies die meeste deur skape gevreet word.

Verdere navorsing op peulplante in die Overberg-renosterveld – ook deur Chimphango en medewerkers – toon dat die vesel- en mineraalsamestelling verskil na gelang van die helling van die veld waarin die plante versamel is.

In ’n verdere artikel wat onlangs in die African Journal of Range & Forage Science verskyn het, skryf die navorsers dat sommige spesies wat versamel is op koeler en natter hellings met ’n suidelike uitsig, betekenisvol hoër konsentrasies fosfaat, kalium en magnesium bevat as plante wat op die noordelike hellings groei.