“Dit is met groot opgewondenheid dat ons die bekendstelling van die RMS aankondig. Dit is ontwikkel deur Textile Exchange, ’n wêreldwye organisasie sonder winsoogmerk,” sê me. Lindsay Humphreys, bestuurder en hoof van volhoubaarheid by Bokhaar Suid-Afrika (BSA).

Suid-Afrika lewer nagenoeg 50% van die wêreld se bokhaar, wat hom die wêreldleier in bokhaarproduksie maak. Die BSA was die dryfkrag agter die standaard vir ’n volhoubare en etiese bokhaarbedryf.

Textile Exchange spesialiseer in die ontwikkeling van kodes van beste praktyke. Hy het nou saamgewerk met die Suid-Afrikaanse bokhaarbedryf om die standaard te ontwikkel wat die globale bokhaarwaardeketting sal bystaan en volhoubare verkryging sal verseker in ’n bedryf wat volhoubare en etiese produksiepraktyke nastreef. Textile Exchange se kliënte sluit verskeie bekende handelsmerke en kleinhandelaars in.

Die standaard volg op die standaard vir volhoubare bokhaarproduksie wat reeds in 2009 deur Suid-Afrikaanse bokhaarboere aanvaar is. Sowat 97% van Suid-Afrikaanse bokhaarboere voldoen daaraan.

“Dit was ’n natuurlike vordering vir die bedryf om ’n wêreldwye standaard bekend te stel wat in vennootskap met ons mark ontwikkel is, om te verseker dat boerderypraktyke aan die volhoubare doelstellings van ons wêreldwye handelsmerke en kettingwinkels voldoen,” sê Humphreys.

Die RMS sluit baie van die ou standaard in, en ook vele aspekte van die bestaande Responsible Wool Standard, een van die volhoubare standaarde vir wolproduksie wat wêreldwyd aanvaar word. Dit lê veral klem op deeglike en volledige rekordhouding.

“Ons boere en veral die veearts dr. Macki Hobson het baie bygedra. Hulle kon meer insig gee oor boerdery in die Karoo, met betrekking tot grondbestuur en dieregesondheid spesifiek vir Angorabokke.”

Skaap- en bokboere

Die grondslag vir albei die oudits is dieselfde, met vereistes vir infrastruktuur, grondbestuur en arbeid wat baie ooreenstem, terwyl enkele aspekte wat slegs op bokke of skape van toepassing is, uitgelig word. Boere wat met skape en bokke boer, sal egter net een maal deur die sertifiseringsproses gaan om vir albei gesertifiseer te word.

“Die nuut vrygestelde RMS verifieer en identifiseer bokhaar wat gelewer is deur middel van boerderystelsels wat dierewelstand en die omgewing respekteer. Die RMS pas ’n sterk versekeringstelsel toe deur gereeld oudits toe te pas op die plase en die materiaal na die finale produkte te volg. Die RMS is ontwerp om te verseker dat die bokke menslik behandel, gesond en goed versorg is,” sê me. Hanna Denes, senior bestuurder vir standaarde by Textile Exchange.

Die doelstellings van die RMS is om die bedryf toe te rus met die hulpmiddels om die beste boerderypraktyke vir boere te erken en versekering te bied dat die bokhaar kom van plase met ’n gesonde benadering tot grondbestuur, dieresorg en maatskaplike verantwoordelikheid. Die RMS bied ook naspeurbaarheid deur die hele waardeketting.

Bokhaarprodusente kan deur hul makelaars aansoek doen om RMS-sertifisering. Geakkrediteerde ouditeurs van derdepartysertifiseringsorganisasies sal plase besoek om boerderypraktyke te meet volgens die beginsels uiteengesit deur RMS. As die oudit suksesvol is, sal hulle RMS-status ontvang vir die bokhaar wat hulle op amptelike bokhaarveilings in Port Elizabeth verkoop.

Prysstygings?

Hoewel geen prysstygings vir gesertifiseerde bokhaar gewaarborg is nie, het internasionale groepe ’n regstreekse invloed op die goedkeuring van die RMS gehad. Die kans is goed dat bokhaar sonder ’n RMS-status nie ’n koper sal kry nie.

“Die RMS help elkeen om areas vir groei op hul plase en binne hul besighede te identifiseer. Dit is ’n uitsonderlike idee dat elkeen se geriewe en praktyke aan minimum standaarde moet voldoen en ons ondersteun dit heelhartig,” sê mnr. Marx Strydom, ’n bokhaarprodusent van Jansenville in die Oos-Kaap.

Humphreys benadruk dat die reis nog geensins verby is nie.

“Ons betree nou ’n nuwe hoofstuk om die RMS deur die plaaslike waardeketting te bevorder sodat verbruikers maklik en met vertroue kan toegang hê tot verantwoordelik geproduseerde produkte.”

Responsible Mohair Standard (RMS) logo
Responsible Mohair Standard (RMS) logo. Foto: Verskaf