Me. Marine Drouilly van Frankryk, wat haar studie aan die Universiteit van Kaapstad voltooi het, het van 2012 tot 2015 navorsing op sowat 160 000 ha in die Sentraal-Karoo gedoen.

Die navorsing is uitgevoer op 22 aangrensende plase in die Koup, waar hoof- saaklik met skape (Dorpers en Merino’s) en Boerbokke en Angorabokke geboer word (sowat 144 teelooie per 1 000 ha), en Kaapse Natuurbewaring se Anysberg-natuurreservaat sowat 40 km suidwes van die Koup.

Die gebied val binne die Nama-Karoo, met kenmerkende yl plantegroei wat struikgewasse en gras insluit. Die topografie sluit vlaktes met droë rivierbeddings en heuwels in, en die gebied word deur berge begrens.

Drouilly wou vasstel wat die invloed van ekstensiewe kleinveeboerdery op die verskeidenheid, verspreiding en getalle van roofdier- en ander wildsoorte op die veeplase is deur dit te vergelyk met die spesies wat in die beskermde gebied voorkom.

Die volgende aannames is gemaak: ’n Kleiner verskeidenheid wildspesies kom op plase voor. Minder wild kom op plase voor weens die mens se versteuring van die omgewing. Karnivore wat deur boere “vervolg” word omdat hulle vee vang, kom in kleiner getalle op plase voor. Groter soogdiere kom in groter getalle in die bewaringsgebied voor.

Kameras wat in die veld opgestel is, het die voorkoms van diere vasgelê, en die versameling en ontleding van mis het die kamerabevindings bevestig. Onder die belangrike bevindings wat die aannames weerspreek, is dat daar geen beduidende verskil gevind is in spesieverskeidenheid of die aantal diere tussen die plase en die bewaringsgebied nie.

Volgens Drouilly was dit ’n nog groter verrassing dat die teenwoordigheid van vee nie een van die wildspesies nadelig geraak het nie. Hoewel ’n hoë graad van menslike bedrywighede ’n nadelige uitwerking op talle wildspesies het, het die betreklik min menslike aktiwiteite op die spesifieke plase en in die bewaringsgebied baie min of geen invloed op die aantal spesies se teenwoordigheid gehad.

Omgewingsfaktore, soos die topografie, het wel ’n invloed op die verspreiding en aantal spesies gehad met meer diere wat in laagliggende gebiede voorgekom het, veral in oewerbos langs rivierbeddings.

In teenstelling met die derde aanname is bevind dat feitlik ewe veel karnivore in die bewaringsgebied en op plase voorkom, al beheer boere veral jakkalsgetalle op die plase. Daar het meer rooikatte op die plase voorgekom as in die bewaringsgebied. Dit kan moontlik toegeskryf word daaraan dat rooikatte meer gevoelig is vir die teenwoordigheid van luiperds, wat in hoërgeleë gebiede in die bewaringsgebied voorkom.

Die enigste aanname wat korrek was, is dat meer groter soogdiere in die bewaringsgebied as op plase voorkom, terwyl omnivore, insektivore en klein- en mediumgrootte spesies ewe lekker, of selfs lekkerder, op plase as in die bewaringsgebied leef.

Bron: Drouilly, M., Clark, A. en O’Riain, M.J., 2018. Multi-species occupancy modeling of mammal and ground bird communities in rangeland in the Karoo: A case for dryland systems globally. Biological Conservation, 224, bl.16-25

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.