Só het die landbou-ekonoom dr. Frikkie Maré van die Universiteit van die Vrystaat (UV) onlangs in ’n aanbieding aan die LRF-Veeskool gesê.

Kennis rondom vars en bevrore produkte is belangrik. Hoewel Suid-Afrika ’n netto invoerder van beesvleis is, is daar steeds geleenthede om uitvoer van veral hoëgehaltesnitte te verhoog. “Met die ooraanbod van (sekere snitte) beesvleis sal dit ook sin maak om uitvoer te verskerp,” sê hy in ’n opsomming van sy aanbieding op die UV-webwerf.

Maré reken boere moet duidelik weet hoekom hulle wil uitvoer. Die uitvoermark kan premiepryse aanbied, gemeet aan minder aantreklike pryse op die plaaslike mark.

“Dit is egter belangrik vir rooivleisuitvoerders in Suid-Afrika om te onderskei of hulle daartoe werk om uit te voer na spesifieke markte wat ’n premieprys betaal, of net ontslae wil raak van oorskotproduksie.”

Produkte moet ook mededingend wees ten opsigte van prys en gehalte.

Hy waarsku die nasionale dieregesondheidstatus weens bek-en-klouseeruitbrekings beperk plaaslike boere se toegang tot premiemarkte.

“In lande waar die grense oop is vir Suid-Afrikaanse uitvoer, is daar die geleentheid om rooivleis teen ’n premie te verkoop as die gehalte beter is as dit waaraan verbruikers in daardie lande gewoond is. Gehalte en beskikbaarheid moet konstant en betroubaar wees as Suid-Afrika daarheen wil uitvoer.”

Deeglike besinning is ook nodig oor die tipe produk wat ’n uitvoermark wil hê. Sulke markte is veral ingestel daarop of vleis afkomstig is van diere wat graan of gras gevreet het, die vetinhoud van die vleis, of dit veilig is om te eet, of dit konvensioneel, natuurlik of organies geproduseer is, en of die vleis bevrore of verkoel verskeep word.

Maré reken daar is baie te leer uit hoe Australië die verpakking van sy produkte gebruik om dit te laat uitstaan.

“As Suid-Afrika dieselfde met die verpakking van sy rooivleisuitvoer begin doen, kan verbruikers in uitvoermarkte ook aan dié produkte as spesiaal begin dink. Dan sal hulle dalk bereid wees om meer daarvoor te betaal.”

Internasionale verbruikers hou byvoorbeeld van verpakking met ’n foto van die tipe dier waarvan die vleis afkomstig is. Dit moet inligting oor prys per kilogram en prys per pak bevat, asook besonderhede oor of die vleis natuurlik geproduseer is, ’n gehaltegradering en die kleur van die vleis.

“Danksy voortdurende marknavorsing weet Australiese rooivleisuitvoerders presies wat die verbruikers in hul teikenlande wil hê en kan bekostig. Dit hou die bedryf ook ingelig of dit winsgewend is om na ’n spesifieke land uit te voer.”

Marknavorsing oor ’n land se bevolkingsgrootte, besteebare inkomste per huishouding, hoeveel vleis persone eet en hoeveel daar op kruideniersware uitgegee word, is ook waardevol. In Japan is onder meer gevind dat verbruikers vleis aankoop wat maklik is om te berei, wat oënskynlik gesond vir hul kinders is, en wat in ’n verskeidenheid geregte gebruik kan word.

Volgens Maré is dit belangrik dat daar op regeringsvlak goeie betrekkinge moet wees met die lande waarheen Suid-Afrika uitvoer.

“Om hierdie regerings van die veiligheid van plaaslike rooivleisprodukte te verseker, moet die Suid-Afrikaanse regering en die rooivleissektor saamwerk en standaarde rondom biosekerheid op plase en nasionaal verbeter. Die toepassing van ’n doeltreffende en uitvoerbare naspeurbaarheidstelsel in Suid-Afrika se nasionale en internasionale rooivleiswaardeketting is ook nodig.”

Hy reken enige inisiatief wat ’n uitvoerder aanpak, moet volhoubaar wees. “As jy nie suksesvol is nie, gaan jy die bedryf skade laat ly.”