Volgens FNB se jongste markvooruitsig (April 2020), met inagneming van die uitwerking wat deur die sluiting van kitskosverskaffers, toerisme en die gasvryheidsbedryf teweeg gebring is, word die plaaslike mark vir beesvleis deur ’n besonder swak vraag en verkope tydens die Paasnaweek gekenmerk.

Volgens die verslag veroorsaak die ongunstige uitwerking van die inperkingsmaatreëls nou duidelike patrone van onsekerheid oor die vraag na beesvleis met die oog op die komende wintertyd. Die vraag na speenkalwers het verder verswak met die verhoogde voorraadhouding wat met speentyd gepaardgaan.

Beesvleisprodusente het op 10 April R48,10/kg vir klas A-karkasse ontvang (0,2% laer as die voorafgaande week), R40,30/kg vir klas C en speenkalwers was R28,35/kg – wat 1,9% laer is as die voorafgaande week. Ten spyte van die goeie reën wat die weidingtoestande in die sentrale binneland bevorder het, is die vooruitsigte dat die beesvleisprys op kort tot mediumtermyn sal afplat met ’n verdere moontlikheid van afname in die komende wintermaande.

Die algemene afplatting in die vraag het die prys van lammers en skaapvleis dieselfde neiging laat volg. Die produsenteprys vir lammers was op 10 April R76,20/kg vir klas A, R53,80/kg vir skaapvleis, met invoerpariteit op R91,22/kg en stoorlammers teen R33,28/kg.

Wat die plaaslike mark vir varkvleis betref, speel die swak verbruikersvraag ook ’n beduidend ongunstige rol. Die invoerpariteitsprys van R24,53/kg op 10 April het met ’n stewige 4,3% teenoor die voorafgaande week verswak, aangespoor deur swakker internasionale pryse.

Die weeklikse prys vir braaihoenders het weens ’n inkorting van die markbedrywighede afgeplat. Die mark vir kitskos maak sowat 40% van die plaaslike produksie uit en die huidige voorraadhouding sal na verwagting die verkoop van braaihoenders strem.

Produsente het op 10 April R27,60/kg vir vars heel hoenders ontvang, R27,08/kg vir heel bevrore middelslag-hoenders en R24,10/kg vir individueel bevrore stukke. Volgens FNB bly die vraag na hoendervleis onseker, ten spyte van die verswakking van die rand en verhoogde invoertariewe wat nou geld.